Politiek -

Waarom die verdraagsaamheid teenoor wetteloosheid?

Deur: Juran van den Heever

Die afgelope twee weke se eskapades op Suid-Afrikaanse kampusse het almal aan die gons: Sommige mense het geen argument of opinie oor die gebeure nie; sommiges bly apaties stil en kyk toe in die hoop dat dit net nóg 'n tipiese Suid-Afrikaanse betoging is wat sal oorwaai; ander raak kwaad en voel verontwaardig, terwyl nog ’n groep aktief daaraan deelneem óf dit nou by die Uniegebou of op sosiale media is.

Die oorsprong van hierdie onlangse opstande lê by die gebeure van 9 Maart 2015 met die #rhodesmustfall-beweging. Terloops, hierdie “fall” het niks met studiegelde te doen gehad nie. Sedert dié protes moes alles wat enige kampus verteenwoordig “fall” en nou selfs die fooie en koste wat verband hou met studies aan enige universiteit. Die nuutste is die CR Swart-beeld buite die hoofgebou op die Kovsie-kampus wat ook nou moet “fall” – alles in die naam van #feesmustfall. Talle kommerwekkende en belaglike eise word elke dag gemaak. So is daar byvoorbeeld Kovsie-studente wat aandui dat punte bekend gemaak moet word al is geld uitstaande; daar word geëis dat studente nie gederegistreer mag word weens agterstallige geld nie; daar word aangedring op gratis mediese dienste en meer swart lektore. By die Universiteit van Pretoria eis die studente dat hulle gratis koshuisinwoning moet kry en dat die kos op die kampus goedkoper moet wees. By die Noordwes-Universiteit weer eis die studente dat Afrikaans moet verdwyn en Totius se beeld verwyder moet word.  Is die rede nie net dalk dat die studente wat voortgaan met die protes eintlik die komende eksamens wil ontduik nie?

Studente is ná die afgelope naweek nog meer verward as vantevore. Wat sommige studente gesien het as ’n massa studente-opstand teen verhoogde fooie is intussen gekaap deur ’n groep geraasmakers wat die hele situasie misbruik en dit intussen in ’n politieke speelbalkompetisie omskep het. Studente wat hulle aanvanklik by die #feesmustfall geskaar het, intussen onttrek en frons verward na die megafoon-geraasmakers wat nou wil hê alles moet “fall”.

Ek het eerstehandse ondervinding opgedoen tydens my PhD-voorlegging in die biblioteek se seminaarkamer. Terwyl daar groot stilte in die biblioteek heers en streng reëls ook in dié verband nagekom moet word, storm ’n groot groep geraasmakers, getooi in rooi en gewapen met ’n megafoon, die biblioteek binne met eise dat die fooie moet val en met die doel om studente wat studeer, te ontwrig. Die wagte wat ontplooi is, het opdrag ontvang om nie konflik aan te wakker nie. Gevolglik staan almal toe en toekyk hoe wetteloosheid seëvier. En dan die ingee, opgee en toegee – elke student in die biblioteek ontvang weer ’n SMS: “UP students, academic activities are suspended for today, due to disruptions by students.” Ekskuus tog, ek was besig met my PhD-voorlegging wat my geld kos, wat baie tyd en voorbereiding geverg het, tyd wat ek van my kinders en my werk af moes neem. My studies is tog iets waarvan ek hou, wat ek wil gebruik om myself te bevorder en om hierdie land ’n beter plek te help maak. So word 90% van die studente, wat alle kleure en kulture insluit, ontwrig en omver gegooi deur 10% van die studente met politieke agendas. Van wanneer af staan ons en toekyk hoe wette gebreek word? Nie een student staan op vir sy of haar reg nie; almal pak hul tassies getrou en ontruim die biblioteek.

Die kommerwekkendste egter is die berigte wat ’n dag later volg. Die rektore gaan die eise van die geraasmakers in ag neem en aanvaar. Hoe nou gemaak? Dit is soos om ’n stout kind sy sin te gee. Wat maak jy groot? Wat kweek jy? Wat berei jy voor vir die toekoms van die land?

En voor ek hierdie skrywe kon afsluit, val my oog op die uitsending van die parlementsitting. Die ANC reken hulle is die slagoffers van hul eie suksesse en dan word die woordjie transformasie gerieflik in die parlement rondgegooi.

  •  
  •  
  •  
Deur juran


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close