Algemeen -

Waarom SA se plattelandse krisis ons almal moet kwel

Dit is allerweë vir ’n wyle al bekend dat groot dele van Suid-Afrika se platteland weens swak regering en al dié se gepaardgaande gevolge dramaties agteruitgegaan en verswak het. Dit kan so wees dat die media stories gaan opdiep in Januarie en Desember se stil tye, maar daar is net te veel nuus, empiriese bewyse en anekdotiese stories oor die krisis in plattelandse munisipaliteite om dit nie as ’n krisis te beskryf nie.

 

Ek praat juis onlangs hieroor met ‘n vriend van my ná die Desember-vakansie. Hy het die Vrystaat besoek en veral die dorpie Parys as ’n bron van kommer uitgelig. Hy sê die hoofstraat is nog in ’n goeie toestand maar die minder gebruikte en opsigtelike systrate is in ’n haglike toestand. Hy het glo met die eienaar van ’n restaurant waar hulle geëet het oor dienslewering op die dorp gesels en volgens haar is die dorp gereeld sonder water. Dit strook met ander nuusberigte oor die suid-Vrystaatse dorpie Philippolis wat ek ook onlangs raak gelees het. Daarin voer inwoners aan dat die dorp slegs water het as die ANC ’n saamtrek daar hou. Daar is omtrent daagliks soortgelyke nuusberigte oor ander landelike munisipaliteite.

 

’n Groeiende aantal munisipaliteite se inwoners gaan ook gebuk (of gaan nog gebuk gaan) onder beurtkrag in spitstye omdat hulle rade nie hul Eskom-rekeninge vereffen nie en maande, selfs jare, daarmee agterstallig is. Sekere rade het hierdie lot naelskraaps vrygespring deur terugbetalingsooreenkomste ter elfder ure met Eskom aan te gaan. Altesame skuld sowat 60 munisipaliteite meer as R12 miljard aan Eskom. Veral munisipaliteite in Noordwes en die Vrystaat is die grootste sondaars en die terugbetalingsooreenkomste wat hulle aangegaan het is uiters prekêr omdat dit op verwagte, en nie werklike nie, inkomste geskoei is en boonop hul geldinvorderingsvermoë oorskat.

 

Natuurlik is daar goed bestuurde landelike munisipaliteite in die land – veral in die Wes-Kaap – maar in die algemeen, en veral in die noorde van die land, lyk die prentjie helaas uiters somber.

 

Die probleem is dat ons as stedelinge redelik ongeërg is oor die probleme op die platteland omdat dit in meeste gevalle ver van ons af is en dit mos tot sekere geografiese gebiede beperk is (of behoort te wees). Maar daar is wel sekere ernstige probleme wat kan oorspoel na ons toe, en dit is reeds besig om te gebeur.

 

Drie van die provinsies waar die meeste landelike verval plaasvind en die grootste krisisse heers – Noordwes, Mpumalanga en die Vrystaat – is tans deel van die sogenaamde “premierliga”, wat die Zuma-kamp steun in die ANC se stryd oor wie die volgende leier van die party gaan wees. Hierdie provinsies sal dus voorkeurbehandeling kry ondanks hul swak regeringsrekord en grootskaalse korrupsie op munisipale sowel as provinsiale vlak. Die ANC – nes ander bevrydingsbewegings in Afrika, soos Zanu-PF – maak ook toenemend op sy landelike kiesers staat om op alle vlakke aan bewind te bly en daarvoor moet hulle natuurlik beloon word.

 

Terwyl die wit ontvolking van die platteland al vir ’n geruime tyd teen ’n snelle tempo plaasvind, verlaat swartmense (veral die jonges) ook landelike gebiede vir die stede vir beter geleenthede en dienste. Die arbeidskrag en entrepreneurskap word dus uit hierdie rade en gebiede onttrek en dít veroorsaak dat hierdie munisipaliteite minder werk vir die oorblywende mense kan skep en dat daar minder inkomste gegenereer word. Hierdie munisipaliteite gaan dus toenemend deur die hoër sfere of ander munisipaliteite finansieel aan die gang gehou moet word terwyl hulle (steeds) nie groot aanspreeklikheid vir hul wandade hoef te aanvaar nie.

 

Terwyl die algehele toestand van plattelandse dorpe en munisipaliteite dus agteruitgaan en deur korrupsie lamgelê en verder leeg gesuig word, sal die ANC-beheerde provinsiale regerings en nasionale regering geld van ander plekke af kanaliseer om sy plattelandse kiesers gelukkig te hou en hul kaders in daardie munisipaliteite verryk. Hierdie geld sal van Gauteng en die Wes-Kaap, maar ook van die groter dorpe, se ekonomieë en belastingbetalers verhaal word. Dit is byvoorbeeld hoekom die erbarmlike Ventersdorp-munisipaliteit saam met die ekonomies-sterker Tlokwe (wat Potchefstroom insluit) gevoeg is om een munisipaliteit te vorm. Maar dis nie ‘n oplossing vir alle sukkelende en arm munisipaliteite nie omdat hulle nie almal geografies na aan groter en ryker munisipaliteite en streke geleë is nie. In daardie gevalle word geld bloot uit ander munisipaliteite en regeringsdepartemente se begrotings geneem en aan hulle gegee.

 

Soos vroeër vermeld is plattelandse mense besig om in groot getalle na die stedelike gebiede en provinsies stroom om van die uitsigloosheid en onderontwikkeling van hul plattelandse bestaan te ontsnap. Dit het natuurlik diepliggende gevolge. Een so ’n impak is die invloed wat dit op skole se kapasiteit en karakter het. Ons het juis nou onlangs weer beleef hoe groot die behoefte is toe daar nie vir duisende kinders in Gauteng se bestaande skole gevind kon word nie. Die toeloop is groot en die treurige Gautengse onderwysdepartement het nie behoorlik voorsiening gemaak voordat die damwal gebars het nie. Veral die goed presterende staatskole, waarvan meeste Afrikaanse skole is, gaan toenemende onder druk kom om Engelse leerlinge in te neem – soos onlangs gesien met die Hoërskool Montana en Overkruin.

 

Kortom wil ek die idee tuisbring dat ons nie die krisis in plattelandse munisipaliteite as geïsoleerd moet sien nie. Probleme so ver as 500 km weg van ons sal nogtans ’n drastiese impak op ons hê en ons moet, sover ons kan, iets daaraan probeer doen.

  •  
  •  
  •  
  •  
Dr. Eugene Brink Deur Dr. Eugene Brink


Top

Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close