Algemeen -

Wagter is nie jou kind nie …

Die dae toe honde van pap en melk met 'n bietjie oorskietkos gelewe het, is lankal iets van die verlede. Deesdae is daar amper net soveel soorte en geure hondekos as wat daar gesigroom en lyfroom en wat nog alles vir vroue is. G’n wonder die gemiddelde Amerikaanse hondeienaar spandeer jaarliks tot R70 000 aan hulle honde nie.

Pretoria is ook hondmal. Ek dink nie ek was al by een enkele winkelsentrum waar daar nie 'n troeteldierwinkel was nie. Dié industrie is immers wêreldwyd, net vir honde, oor die $200 miljoen werd. As ek kyk hoeveel toue, balle en lekkernye in hierdie winkels is, kan ek goed glo dat dié industrie so groot is, en dat mense voel dat dit heel normaal is om net nog en nog en nog op hulle viervoetige kinders te spandeer.

Maar hierdie syfers dui ook op iets groter. Soveel so dat “pets are the new kids, plants are the new pets”, veral in linkse kringe, amper 'n geykte uitdrukking geword het. Nou ja. Wagter en Kita – my eie hondekinders –  is aansienlik vermaakliker as die “delicious monster”-plant (gaatjieblaarplant), maar ek kan nie dink dat Wagter hoegenaamd met my kinders sal kan kompeteer, sou hulle eendag hul opwagting maak nie. 'n Hond kan, volgens my, eenvoudig nie veel bevrediging gee as jy hulle met kinders sou vergelyk nie.

En hoekom sal 'n mens dié vergelyking wil tref? Watter bemarkingskurk het gesit en gewonder hoe hulle meer gevlegte beesvelle kan verkoop, en toe mense oortuig dat woefies hulle kinders is? Of is dit dalk deel van die nuwe aanval op die gesin as hoeksteen van die beskawing? Die nuwe wêreld waarin diere die goeie ouens is, en mense die hele planeet se pret bederf. 'n Wêreld waar mense sommer aanneem dat ryk mense aaklig is, en vir jou vertel, asof dit algemene kennis is, dat mense die aarde verwoes en dat dit daarom 'n misdaad is om te bestaan. Wat nog te sê nuwe kinders in die lewe te bring. Bid jou aan! Ek wonder altyd hoekom sulke mense nie by hulself begin, as hulle bestaan dan nou 'n misdaad is nie? Waarskynlik omdat hulle dit self nie glo nie en heimlik hoop dat iemand hulle sal kom red. Net jammer hulle glo dat mense almal aaklig is, so as iemand hulle kom red sal hulle dit nie weet nie, want hulle het 'n ysbeer verwag.

Verskoon my tog, terwyl die wêreld se mense mal word, gaan ek net gou met Wagter en Kita stap.

  •  
  •  
  •  
Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close