Algemeen -

Wanneer gaan ras nie 'n faktor met kritiek wees?

Ek droom van 'n dag wat almal werklik oor dieselfde kam geskeer kan word.

 

Ons Grondwet raak uiteraard liries oor gelykheid, maar in die praktyk dit het 'n Orwelliaanse geur aangeneem deurdat sommiges net meer “gelyk” is as ander. Regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging word, die groot skade wat hulle berokken ten spyt, geregverdig as rede om juis gelykheid teweeg te bring. Diskriminasie en die aftrek van sommiges om die armes en verontregtes kwansuis op te hef, het egter klaaglik in die praktyk misluk. Wit rugbyspelers word byvoorbeeld regmatige kanse ontsê ter wille van sogenaamde transformasie (terwyl Bafana Bafana nie daaraan onderwerp word nie). Hul uittog uit die land, tesame met wit professionele en internasionale beleggers, rig onmeetbare skade aan almal aan. Meer nog, dit is blatante rassisme.

 

Swart politici en staatsamptenare kan openlik en sonder enige gevolge vra vir 'n volksmoord op wittes, maar 'n wit eiendomsagent se vergelyking van swart mense met ape het haar lewe geruïneer. Dit is die soort perverse gelykheid waarteen George Orwell die wêreld gewaarsku het in sy allegoriese novelle oor die Sowjet-unie, Animal Farm.

 

Dit kan nie ontken word dat daar vandag in Suid-Afrika 'n oorsensitiwiteit oor ras is nie – selfs meer as 20 jaar gelede. Sport is geen uitsondering nie. Terwyl daar 'n uitdruklike plan bestaan om meer swart (omskryf as almal wat nie wit is nie) spelers teen wil en dank in die Bok-span in te bring ongeag die duidelike probleme wat dit oplewer en die gebrek aan werklike aanvoorwerk daarvoor, moet enige kritiek op swart spelers en afrigters eers gekwalifiseer word met die voorvoegsel “ek is nie 'n rassis nie, maar …”. Dit is egter nie die geval wanneer swart rassiste op sosiale media of elders gal oor wit spelers en afrigters braak nie. Dit gebeur feitlik elke dag op sosiale media.

 

Die oud-Bokstut Ollie le Roux asook die rugbyskrywer Mark Keohane het onlangs ook hulself gevrywaar van enige rassisme-beskuldigings voordat en nadat hulle fel kritiek op Allister Coetzee se afrigting van die Bokspan gelewer het. Bygesê, Le Roux se kritiek was in elk geval nie goed en billik nie omdat hy Coetzee se onvermoë daaraan toedig dat hy self nooit 'n Springbok was nie. Sy hele redenasie ly skipbreuk as in ag geneem word dat van ons suksesvolste afrigters soos Jake White en Kitch Christie ook nooit die Groen en Goud gedra het nie. Voorts kon Coetzee natuurlik ook nie die toentertydse Bokspanne as bruin man verteenwoordig nie. Hy is wel reg dat Coetzee se kop moet rol – en blykbaar het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) immers sulke planne.

 

Maar Le Roux moes in die nadraai daarvan bontstaan om te verduidelik dat hy nie 'n rassis is nie. Die hele debat word nou oor Ollie se beweerde rassisme ('n nietige en onbewese aangeleentheid) gemaak en nie meer oor Coetzee se weliswaar powere rekord as Bokbreier nie (die werklike en bewese probleem). Ditto Swart Maandag en die ou vlag.

 

Keohane het ook sy stuk gister in Business Day begin met 'n vrywaring dat sy kritiek niks met Coetzee se ras te doen het nie. Hy stel dit ook prontuit dat Coetzee baie aangenaam is en hy persoonlik van hom hou. Hy beskryf dan egter Coetzee se tydperk as Bokbreier as 'n totale mislukking en eis sy kop.

 

Ek is nie bewus van swart skrywers wat ooit so versigtig met Heyneke Meyer en White was nie. Trouens, baie van hulle het spesifiek vir 'n swart breier in hul plek geagiteer terwyl Le Roux en Keohane allesbehalwe ras-voorskriftelik is. Coetzee word boonop ook onnodig deur sekere hoofstroommedia beskerm. Khanyiso Tshwaku van Sunday Times het die afgelope Sondag, die dag na die Bokke se grootste nederlaag nog teen Ierland en selfs nadat hulle die grootste nederlaag nog ooit teen die All Blacks in September gely het, vir 'n prominente agterbladartikel 'n onderhoud met Coetzee gevoer. Dit ly geen twyfel nie dat Tshwaku se segment-redakteur hom opdrag gegee het om Coetzee uitermate goed te laat lyk en sy voorgangers sleg te laat lyk. Gaan lees dit gerus, maar min kritiese vrae is klaarblyklik gevra en die trant en inhoud van die artikel strook nie met wat tans aan die gang is nie.

 

Dit is 'n voldonge feit dat Coetzee in die huidige tydsgees waar transformasie in ons keelgate afgedwing word en ons regering totaal rasbehep is, baie geldige kritiek vrygespring omdat hy nie wit is nie. Dieselfde geld ook vir sekere spelers van kleur. Geen wit afrigter sou met so 'n swak wenrekord so lank oorleef en so lig deur die media en groot segmente van die rugbypubliek behandel word nie. Hy het duidelik nie die vaardighede om 'n span soos die Springbokke te brei nie en ons moet dit onomwonde kan sê – nes ons dit kan sê oor wit afrigters wat benede peil is. Dit is seker nie net Coetzee se skuld dat hy nie oor sulke vaardighede beskik nie of dat hy in die eerste plek aangestel is nie, maar dit behoort hom nie van kritiek of afdanking kwyt te skeld nie. Hy het immers nog nie bedank nie en gaan dus voort om die verantwoordelikhede van sy pos te aanvaar.

 

Ek het persoonlik geen tyd vir mense wat ander mense aanval weens hul ras nie – ongeag wie jy is. Sulke optrede is verfoeilik en lei die aandag van die regte kwessies af. Maar ons moet die vryheid hê om sonder aansiens des persoons die keiser kaal te noem en geldige kritiek te kan lewer op iets wat voor die hand liggend verkeerd is. Geldige kritiek moet dan ook nie as rassisme afgemaak word nie. Andersins begin ons die waarheid te ontken en is ons as 'n samelewing niks beter af nie as die distopiese een wat in Animal Farm beskryf word. En my droom van gelykheid ontaard in 'n nagmerrie.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Eugene Brink


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close