Algemeen -

Wanneer is iemand ryk?

Rykdom, soos die meeste dinge in die lewe, is maar heel subjektief. Gereeld hoor ons dat ons ons seëninge moet tel, want, so sê kinderkranstannies nog steeds, as jy 'n fiets het, is jy ryker as amper almal in die wêreld. Dan val jy onder die top 10%. Maar dit is natuurlik subjektief, want rykdom word nie in fietse gemeet nie. Selfs geld is nie 'n perfekte maatstaf nie, want ons het vandag, selfs al is ons relatief arm, meer as wat die rykstes van die rykes 200 jaar gelede gehad het. Dinge soos lopende water, vinnige vervoer en behoorlike kos was selde selfs vir konings beskore. Vandag kan ons regdeur die jaar bykans alles eet. As groente of vrugte buite seisoen is, voer ons dit in. So maklik soos dit. Selfs mediese sorg het groot spronge vooruit gemaak. Danksy beter higiëne, entstowwe en antibiotika het baie min van ons al op 'n jong ouderdom broers en susters aan die dood afgestaan. Nie te lank terug nie was dit amper 'n wonderwerk as jy die hoërskool haal – dis nou as jy gelukkig genoeg was om 'n opvoeding te kon ontvang.

'n Paar jaar gelede gesels ek in Etiopië met 'n paar jong mense. Hulle vra toe of almal in Suid-Afrika ryk is, maar voor ek kon antwoord, val 'n meisie my in die rede. “Wat is ryk?” wou sy weet. Sy sê sy kry altyd skaam vir die VSA se armes, omdat hulle kla terwyl hulle eintlik ryk is. “Jy kla jy is arm, maar jy het 'n yskas en jy bly in 'n huis met jou kinders in aparte kamers,” merk sy op. Die groep waarvan ek daardie middag deel was, voel elkeen ook ryk, sê hulle, want nie een van hulle was nog 'n oomblik regtig honger nie. Hulle het klere en hulle kan bekostig om op 'n Saterdagmiddag saam met mense van regoor die wêreld te sit en bier drink. Nie een van hulle het hul eie karre nie, ook nie duur horlosies en selfone nie. Maar hulle is gemaklik, gelukkig en sien hulself as bevoorreg.

As ons nou na syfers kyk, kort 'n mens R2,7 miljoen se bates om deel van Suid-Afrika se rykste 1% te wees. In Monaco, waar 'n mens slegs bly oor jy reeds ryk is en belasting wil ontduik, kort jy ongeveer R100 miljoen se bates. In Kenia, daarteenoor, kort jy net so R300 000 se bates. Dus, as jy slegs 'n afbetaalde kar op jou naam het, is jy baie welvarend in Kenia, maar waarskynlik een van Monaco se armstes. Tog het jy 'n afbetaalde kar, wat meer is as waarmee die meeste mense kan spog.

Wêreldwyd besit die 1,1% rykstes 45% van die wêreld se welvaart. Die armste 55% besit slegs 1,3% van die wêreld se welvaart, terwyl die middelste 43% omtrent 42% van die wêreld se welvaart besit. Dit dui op ongelooflike ongelykheid, maar dit is steeds 'n groot stuk vooruitgang teenoor 'n paar honderd jaar gelede toe konings en edelmanne, bloot deur gebore te word, alles besit het en die res van die mensdom niks gehad nie. Anders as toe het die meeste superrykes van vandag hul rykdom ontvang deur die wêreld vir ons almal 'n  beter plek te maak. Maar daaroor skryf ek volgende week – moet dus nog nie die rykes haat nie.

Foto bron: MUnsplash

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close