SNI -

Wanneer skeidsregters wil saamspeel

As stem 'n sport was, dan was joernaliste se rol as’t ware om as skeidsregter op te tree. 'n Goeie skeidsregter word nie as deel van die stryd gesien nie. Soos wat die stryd-om-idees uitwoed, is dit belangrik dat die skeidsregter seker maak almal kry geleentheid om deel te neem. Sy werk is nie om 'n swakker deelnemer te help of 'n sterker deelnemer te kniehalter nie. Ten einde dit te kan doen is dit belangrik dat alle partye glo die skeidsregter neem nie deel nie – 'n skeidsregter verkoop as’t ware geloofwaardigheid.

Op die ou end is dit die produk wat alle media verkoop – geloofwaardigheid. Die doel van enige media is om geglo te word. Wanneer die leser, luisteraar of kyker glo wat hulle lees, hoor of sien – dan slaag die mediahuis in sy doel.

As skeidsregters, word daar besonders baie ruimte aan joernaliste gegun. Die publiek vertrou dat die deelnemers aan die wedstryd se menings getrou weergegee word. Jan publiek vertrou ook dat die skeidsregter nie self deelneem nie, maar slegs die stryd laat gebeur. Dit beteken dat joernaliste ongewilde menings en stellings deur deelnemers kan publiseer, sonder dat hulleself gekruisig word. Wanneer die media dan vir Jacob Zuma aanhaal wat sê dat hy niks fout gedoen het nie, verstaan die breër publiek dat die joernalis dit nie noodwendig self glo of nie glo nie – hy laat slegs 'n deelnemer toe om deel te neem.

Nie alle skeidsregters is egter goeie skeidsregters nie. Soms, selfs in joernalistiek, raak die versoeking te groot en deel die skeidsregter self 'n paar klappe uit. Die skeidsregter misbruik sy posisie en begin deelneem aan die geveg. Wanneer die verbaasde deelnemer dan terugklap, word daar weggekruip agter die spesiale status van 'n skeidsregter.
Die gevolg van 'n skeidsregter wat so aktief aan die geveg deelneem, is dat hy alle geloofwaardigheid inboet. Vir joernaliste is die verlies aan geloofwaardigheid een met rampspoedige gevolge. Die sluiting van twee publikasies in die afgelope maand, wys presies hoe noodlottig 'n verlies aan geloofwaardigheid is.

The New Age

Van die begin af was The New Age kontroversieel. Die koerant is geskep met Gupta-geld, en het die doel gehad om deel te neem aan die stryd eerder as om 'n skeidsregter te wees. Telkens wanneer daar uitgewys is dat The New Age eintlik 'n propaganda-blad is, is daar weggekruip agter die skeidsregterstatus.

Deur die hele Bell Pottinger-saga was The New Age voor in die koor met die publiseer van vals en verdraaide feite, onder die dekmantel van skeidsregter. Na Bell Pottinger ontmasker is, is enige geloofwaardigheid waaraan The New Age vasgehou het daarmee heen gewees.

Uiteindelik was The New Age beskou as pure propaganda, veral rondom President Zuma en die Gupta-broers. Dit was vir almal pynlik duidelik dat hierdie nie 'n skeidsregter is nie, maar veel eerder 'n deelnemer.

Toe Mzwanele Manyi die koerant en bygaande TV-kanaal aanskaf in Augustus 2017 was die skrif aan die muur. Selfs 'n naamsverandering kon dié publikasie nie red nie, en in Julie 2018 is die deure gesluit.

Uiteindelik het The New Age misluk in die kern van mediawese – niemand het hulle meer geglo nie.

Huffington Post

Huffington Post is 'n groot internasionale handelsnaam. In November 2016 het Huffington Post tesame met Media24 besluit om 'n Suid-Afrikaanse weergawe van die koerant te loods.

Feitlik onmiddellik het die joernaliste by Huffington Post geswig voor die versoeking om deel te neem.

Die berugte Shelley Garland-blog is in April 2017 op Huffington Post se webwerf geplaas. In die blog voer ene Shelley Garland aan dat wit mans se stemreg ontsê moet word. Kritiek op die blog was oombliklik en universeel. In die middel van die storm wat deur die blog ontketen is, besluit Huffington Post om nie net die blog se publikasie te verdedig nie, maar ook die inhoud.

Eensklaps word die skeidsregter 'n deelnemer.

Later, toe dit uitkom dat Shelley Garland 'n pseudoniem is, en die hele oefening doelbewus gedoen is ten einde die media-vooroordeel teen wit mans uit te wys, was Huffington Post diep in die knyp. Hulle is uitgevang as deelnemer, en het die geloofwaardigheid van 'n skeidsregter verloor. Na 'n verdoemende bevinding deur die persombudsman het die redakteur, Verashni Pillay, bedank.

Onder Pieter du Toit, die nuwe redakteur, het Huffington Post in die daaropvolgende maande al hoe meer afstand gedoen van hulle posisie as skeidsregter. Uit Pieter se Twitter-rekening is dit duidelik dat hy 'n besonderse afkeur in AfriForum het. Hierdie persoonlike afkeur het oorgespoel na die professionele wêreld, en Huffington Post het gereeld teen AfriForum as deelnemer, eerder as skeidsregter opgetree. Uiteindelik eindig dit met nog 'n bevinding deur die persombudsman teen die koerant. Dit was spesifiek AfriForum wat Huffington Post ombudsman toe gesleep het oor slordige feitefoute in beriggewing.

In sy bevinding spreek die persombudsman diep kommer uit oor die slegte verhouding tussen die publikasie, HuffingtonPost, en AfriForum. Hierdie bevinding bevestig net die posisie van Huffington Post as deelnemer, eerder as skeidsregter.

Twee bevindinge deur die persombudsman in minder as 'n jaar het die publikasie se reputasie aan flarde gelaat. In sy desperate pogings om eerder deel te neem aan die geveg as om objektiewe skeidsregter te speel, het Huffington Post onherstelbaar sy geloofwaardigheid ingeboet.

Die uiteinde is dat Huffington Post, met 1,6 miljoen unieke besoekers, in Julie 2018 aankondig het dat sy deure moet sluit. Verskeie ander publikasies soos Sowetan, The Citizen, BusinessTech en BusinessInsider het soortgelyke besoeksyfers, maar hou die ligte aan deur advertensie-inkomste. Moontlik word hierdie publikasies net meer vertrou deur lesers en adverteerders.

Skeidsregters is krities

Goeie joernalistiek is van kernbelang vir 'n demokrasie om te werk. Goeie skeidsregters is absoluut onmisbaar ten einde 'n regverdige wedstryd te laat geskied.

Ongelukkig is slegte skeidsregters nodig, sodat ons die goeie skeidsregters kan waardeer.

Die Suid-Afrikaanse publiek het onlangs twee slegte skeidsregters verwerp. Twee skeidsregters wat eintlik deelnemers wou wees.

Hopelik spoor dit die oorblywende mediahuise aan om die rol as skeidsregter ernstig op te neem, en in die besonder daarteen te waak dat jy as deelnemer gesien word. As joernaliste hulle geloofwaardigheid een keer opoffer om 'n goedkoop hou uit te deel, offer hulle dit eintlik vir ewig op.

Want, as daar een ding is wat Suid-Afrika nie vergeet of vergewe nie, is dit 'n bevooroordeelde skeidsregter – vra maar vir Bryce Lawrence.

  • 13
  •  
  •  
  •  
Connie Mulder Deur Connie Mulder


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close