Algemeen -

Was ek maar ook deel van die Ankole-bees(ras)

Deur Reon Janse van Rensburg

“Die president is vandag die grootste teler van Ankole-beeste in Suid-Afrika.”

“Die president is inderdaad baie passievol oor sy Ankole-beeste.”

Die Ankole-bees, wat nie 'n eg Suid-Afrikaanse beesras is nie, is eintlik afkomstig vanaf Uganda in Oos-Afrika. Dit word as 'n sterker ras as die Nguni beskou wat volgens sommiges in die bedryf aan die uitsterf is omdat jonges nie meer weet hoe om met die ras te teel nie. 'n Ankole-bees se horings is hol aan die binnekant. Dit sorg dat dié bees met die reusagtige horings sy liggaamstemperatuur beter kan reguleer.

President Cyril Ramaphosa het in 2004 vir die eerste keer in die beesras begin belangstel nadat hy by Uganda se president Yoweri Museveni besoek afgelê het. Weens kommer van die Departement van Landbou, Bosbou en Vissery kon hy aanvanklik egter nie die beeste na Suid-Afrika invoer nie omdat daar gevrees is dat Uganda 'n onvoldoende program vir siektebeheer gehad het. Hy moes 'n ander plan maak om sy geliefde beesras hierheen te bring, na sy plaas Ntaba Nyoni in Mpumalanga. Nie net het hy daarin geslaag om dit te doen nie, maar hy is vandag een van die grootste telers van dié beesras in Suid-Afrika.

Ek wens egter dat ek deel was van hierdie ras wat soveel opspraak verwek en dat my president se oë so sal skitter sodra hy oor my begin praat. Ook dat hy met soveel opwinding saam met my 'n toekoms sal wil bou en dat hy my toekoms ook sal wil verseker. Ek wens dat ek vry, veilig en voorspoedig kan wei (werk) en dat hoe meer ek wei, hoe meer sal my waarde styg, nie slegs omdat ek 'n bydrae tot my onmiddellike omgewing lewer nie, maar ook omdat my nasate ook ná my tyd hier onder die Afrika-son wil wei. – BEE en swart bemagtigingsbeleide word misbruik om vir enkele kaders te voorsien terwyl miljoene swart Suid-Afrikaners nie geleenthede kry nie. Wit opgeleide werknemers kry nie werk of bevorderingsgeleenthede nie bloot omdat hulle die verkeerde velkleur het. Wie wen regtig hierdeur?

Ek wens ek was deel van die Ankole-bees(ras) wat weet dat hulle veilig sal wees wanneer grond onteien of gegryp word – dat die boer wat na my omsien, my rustig sal maak met die wete dat hierdie stuk grond veilig is en dat geen grondgryper, politikus of boosdoener my en my Ankole-gemeenskap sonder heenkome of veiligheid sal laat nie. Dit moet darem maar wonderlik wees om op Ntaba Nyoni te wei en te weet dat jou toekoms hier sal voortgaan, al word die ander beeste in die provinsie asook oral in die res van die land van hul weiding gestroop. – Gaan president Cyril Ramaphosa ook sy grond aan die regering oorhandig, of gaan hy sy posisie in die ANC misbruik om dit gerieflikheidshalwe vry te spring? Lyk die idee van onteiening (sonder vergoeding) selfs dan nog so aanloklik as hy sy geliefkoosde plaas waarvoor hy baie omgee net so moet prysgee?

Ek wens dat my weiveld soos nou, stil en rustig, in die wind en son sal aanhou groei en dat ek met gemoedsrus kan gaan slaap met die wete dat my boer, my leier, seker gemaak het dat ek vanaand veilig sal wees omdat daar goeie, bevoegde sekuriteit is (bevoegde SAPD). – Ons dorpe, stede en ook die platteland is onveilig terwyl ons minister van polisie meer bekommerd is oor sy Al Capone-voorkoms, en burgers hul veiligheid in hul eie hande of in dié van die privaat sektor moet plaas.

Ek wens dat die skoon water wat ek nou drink, vir alle beesrasse beskikbaar sal wees en dat die Suid-Afrikaner wat gereeld die trog kom skoonmaak en seker maak dat die boorgat werk, nie met 'n suikerboer (Kubane) vervang sal word omdat my boer doer in die verlede, lank voordat ek eers 'n gedagte was, vir hom 'n gunsie wou bewerkstellig en hy nou aan hom iets verskuldig is nie. Sal hy ooit die suurgras in die omgewing raaksien en weet dat ek daarvan hou en nie graag aan suikerriet wil kou nie? – Die ANC is vasgevang in skuld. Hulle vergeet egter van die grootste skuldeiser aan wie hulle verskuldig is – Suid-Afrika.

Ek wens dat in die geval waar ek mediese hulp benodig, my boer dadelik sal sorg dat 'n private veearts na my kom kyk en dat ek nie ook aan die staat se sorg oorgelaat sal word nie, met die hoop dat hulle betyds sal opdaag, en indien hulle wel opdaag, dat hulle inderdaad in staat sal wees om my lewend huis toe te stuur. Ek hoop dat ek daarop kan staatmaak dat hierdie goeie veeartse wat nou na ons omsien, steeds voortaan toegelaat sal word om dit te mag doen en dat hulle nie gedwing sal word om vir die staat te werk nie (NGV). Kan jy jou indink as hulle sou besluit om dan eerder Europese of Amerikaanse beeste te gaan behandel? – Ingevoerde dokters van Kuba, terwyl ons dokters hulself na ander lande uitvoer omdat hulle nie kans sien om deeglike werk in 'n substandaard hospitaal te doen nie.

Ek wens ek was ook deel van die Ankole-bees(ras) wat al die pad van Uganda af gekom het, hier geteel is, hier grootgeword het en nou as deel van die Suid-Afrikaanse boerderybedryf beskou word – al lyk hy anders van buite.

Ek wens ook dat daar so oor my toekoms gesels kan word soos oor dié van die Ankole-bees(ras) – waar daar gepraat word oor my groei en dat ek ook 'n bepalende rol kan speel in die ekonomie, nes die ander beesrasse wat op Suid-Afrikaanse grond wei. Ek wens dat ek ook so maklik soos die Ankole-bees(ras) in Suid-Afrika aanvaar word en dat daar sonder enige huiwering besluit sou word om my tog ook 'n stukkie weiveld te gun.

In die verlede was my ras afkomstig vanaf Europa, maar net soos die Ankole-bees het ek hier 'n nuwe tuiste gekry. Van Europa weet ek net so min soos wat die Ankole-bees op Ntaba Nyoni van Uganda af weet. Die Europeër is lankal by my uitgeteel en ek is nou deel van die Suid-Afrikaanse beesrasse, eg Suid-Afrikaans. – Word Afrikaners as deel van Suid-Afrika beskou? Is daar plek vir my en jou?  

Was ek maar deel van die Ankole-bees(ras), dan sou die lewe meer kon gaan oor wié en wát ek is en minder gaan oor die uitsonderlikheid van my (ras).

Ek wens my president het meer gesels oor die mens en minder gehamer op ras.

Foto:

President Ramaphosa se Ankole-bul, Mufasa, wat vir R2,7 miljoen verkoop is

Bron – Nasionale Regstreekse Ankole-veiling

  •  
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close