Algemeen -

Wat as die staat vir ons elkeen 'n miljoen rand gee?

'n Mens kan eintlik maar netsowel vra wat sou gebeur as die staat vir ons elkeen R350 gee. Die uitwerking van die R350-toelaes is vir die meeste van ons nie juis merkbaar nie, maar dit is ook hoegenaamd ook nie niks nie.

Kortom word R350 dan, in teorie altans, die nuwe nul. Dit is omdat die staat nie 'n inkomste van sy eie het nie en die geld vir die toelaes iewers vandaan moet kry. Die staat kan dit óf deur middel van belasting uit werkendes se beursies steel, óf hy kan dit leen. Of, maar net 'n idioot sal dit doen, die staat kan die Reserwebank vra om bloot meer geld te druk en in omloop te bring.

In al drie gevalle is inflasie die uiteinde. Op 'n praktiese vlak is R350 darem aansienlik meer as niks. Vir baie van ons is dit nie veel nie, maar vir iemand wat andersins niks sou hê nie, is dit amper 'n gebalanseerde dieet vir 'n maand. Daardie R350 koop egter 'n bietjie minder as wat dit sou as daar nie skielik 'n paar miljoen nuwe toelaagontvangers was nie. Vir so 'n bedraggie is die inflasie wat daardeur veroorsaak word nie naastenby so beduidend soos die verligting wat daardeur gebied word nie, tensy jy 'n belastingbetaler is want dan word die geld vir daardie toelaag van jou gesteel. Die VSA beleef tans redelike hoë inflasie as gevolg van onder meer stimilustjeks wat deur die staat uitgereik word. Hierdie $1 400-tjeks word deur splinternuwe geld gedek en inflasie is dus te wagte. Hoe lank dit sal duur, moet egter nog gesien word.

Maar kan R1 miljoen die nuwe nul word? 'n Miljoen is tog aansienlik meer as niks. Die antwoord is ja, absoluut ja. Dit sal onmoontlik wees vir die regering om die ongeveer R6 triljoen daarvoor te leen, of om dit skielik op een of ander wyse te bekom. Dit sal beteken dat geld op groot skaal gedruk moet word, wat die waarde daarvan laat verdwyn. Geld se waarde is immers gebaseer op ons geloof daarin en nie juis op iets anders nie. Op dié manier sal R1 miljoen amper oombliklik die nuwe nul word en eerder as om almal oornag ewe ryk te maak, sal rykdom nie meer in die land bestaan nie, of dit sal in iets anders as geld gemeet word en ruilhandel sal hoogty vier. Tydens die hiperinflasiekrisis van die 1920’s in Duitsland het mense dikwels kontantnote verbrand om warm te bly. Dat geld totaal waardeloos word, het dus al voorheen gebeur en die onlangse geval in Zimbabwe was ook nie die laaste keer wat dit gaan gebeur nie.

Sodra meer geld skielik in omloop is en die hoeveelheid goedere wat daarvoor geruil kan word dieselfde bly, sal die geld altyd minder werd word. Dit is maar net wiskunde.

Op die ou end kom dit maar daarop neer dat enige staatshulp op die lang duur 'n onwelkome versteuring van die mark is, met die gevolg dat daardie “hulp,” hoewel soms nodig, op die kort termyn eerder 'n reuselas op die lang termyn word – nie net vir diegene wat daarvoor moet betaal nie, maar vir die hele samelewing wat met duurder gebruiksgoedere en geld wat niks werd is nie oor die weg moet kom.

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close