Algemeen -

Wat beteken dit regtig om tevrede te wees met die misterie van nie te weet nie?

Die wêreld se suksesvolste en slimste mense soos Leonardo da Vinci, Descartes, Benjamin Franklin, Steve Jobs en soveel ander denkers soos hulle het almal een ding in gemeen – hulle was nuuskierig. Hul nuuskierigheid was oor verskeie onderwerpe en vakgebiede. Daniel Kahneman, wat in 2002 die Nobel-prys vir Ekonomiese Wetenskappe gewen het en wat in 2013 die ontvanger was van die Presidensiële Medalje van Vryheid in die VSA, verwys in sy boek Noise na drie aspekte wat belangrik is vir mense wat besluite neem wat 'n invloed op die wêreld kan hê. Dit is: hoe fiks jy in jou denke is, jou kognitiewe ingesteldheid en die manier waarop jy dink. Gedagtig aan die suksesvolste en slimste mense is dit duidelik dat hierdie mense goed bedrewe was in dit wat hulle gedoen het. Hulle was nie net slim nie, hulle het ook die regte kognitiewe ingesteldheid gehad, wat beteken dat die kwaliteit van hul besluite afgehang het van dít wat hulle geweet het en hoe goed hulle gedink het. Hóé hulle gedink het was seker die belangrikste bepaler in hul besluite. In die lig hiervan is dit duidelik dat jou bereidheid om 'n oopkop-benadering te hê en jou bereidheid om nuwe inligting in te neem, 'n invloed het op die kwaliteit van die besluite wat jy neem. Na afloop van Covid-19 word kritiese denke as een van die belangrikste faktore beskou. Was die sukses van hierdie mense nie juis omdat hulle die belangrikheid van kritiese denke besef het sonder dat hulle dit geweet het nie?

Rowan Hooper verwys in sy boek, Super Human, na intelligensie as iets wat 'n mens maklik in ander mense kan identifiseer. In hierdie boek voer hy onderhoude met meer as een persoon wat volgens verskeie meetinstrumente 'n hoër as gemiddelde intelligensie het. Daar is goeie rede om te glo dat bogemiddelde intelligensievlakke in die meeste beroepe geassosieer kan word met beter en konstante resultate. Belangrike ooreenkomste wat die mees suksesvolle en slimste mense betref, is die werklikheid dat hulle konstant bly werk aan hul vermoë om te kan dink. Hulle oefen dus hul brein soos 'n atleet wat vir 'n belangrike sportbyeenkoms voorberei. Die werklikheid is dat atlete nie net een oefening doen wanneer vir 'n belangrike byeenkoms voorberei word nie. Daar is verskeie oefeninge en benaderings wat gevolg moet word in die voorbereiding vir die byeenkoms. Die belangrikste oefening vir 'n mens se brein is nie net om aan te hou leer en lees nie, maar eerder die vermoë om jouself konstant te dwing om nuut na dinge te kyk of om 'n onderwerp aan te pak waarmee jy nie noodwendig vertroud is nie. Is dit nie juis hierdie onbekende vakgebiede wat ons dwing om 'n bietjie te dink nie?

Grant Wiggins definieer kritiese denke as die aanhoudende toepassing van onbevange (unbiased), akkurate en geloofwaardige data-analisering, die sintetisering van veelvuldige databronne, met die kognitiewe ingesteldheid om te dit te kan verstaan. Dit is dus die doelbewustelike kognitiewe aksie wat jyself fasiliteer om krities oor iets te dink. Die uitdaging wat deur nuuskierigheid geprikkel word, is nie noodwendig om meer te weet nie. Dit is dalk juis om jouself te dwing om dít wat jy dink jy weet te bevraagteken en dit laat 'n mens besef jy weet eintlik nie veel nie. Die gevolg hiervan is egter 'n fikser brein wat jou onwetend na kritiese denke en 'n suksesvolle loopbaan lei.

  •  
  •  
  •  
Deur Higgs


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close