Ekonomie, Nuus, Politiek -

Wat die ANC by Estland kan leer

Deur Reon Janse van Rensburg

 

Jy mag dalk dink dat jy al van alle lande wat op die wêreldkaart aangeteken is, gehoor het. Jy sal dalk egter verbaas wees om van Estland (“Estonia” in Engels) te hoor. Estland is die mees noordelike van die drie Baltiese state (die ander twee is Letland en Litaue) en dit is tussen die Baltiese See en Rusland geleë. Die grootste deel van Estland is op die vasteland geleë, maar dit bestaan ook uit 2 222 eilande van verskillende groottes in die Baltiese See.

Estland het op 20 Augustus 1991, ná 51 jaar, onafhanklikheid van die Sowjetunie verkry en kon toe begin om die seer en swaarkry wat met kommunisme gepaard gegaan het, af te skud. Die land se burgers het hard daaraan gewerk om hul land te herbou.

Die land is die eerste keer in Junie 1940 deur die Rooi Leër beset onder die vaandel van die nie-aggressie-verdrag tussen Duitsland en die Sowjetunie op grond waarvan dié twee totalitêre state Oos-Europa in invloedsfere verdeel het. 'n Jaar later het die Nazi-leër die Sowjetunie binnegeval en ook Estland tot in 1944 beset, waarna die Sowjetunie die land herower het.

Na raming is 7,3% van Estland se bevolking tydens die Tweede Wêreldoorlog oorlede – 'n hoër persentasie as die meeste ander Europese lande. Ander lande soos Pole, Litaue en Letland tesame met verskillende Sowjetrepublieke het ook groot persentasies van hul bevolkings in die oorlog verloor (Belo-Rusland het die meeste slagoffers gehad, met 25,3% van sy bevolking wat as gevolg van die oorlog oorlede is). 'n Verdere 10% van Estland se bevolking is daarna na Sowjet-arbeidskampe gedeporteer.

In die vroeë 1990’s kon demokrasie in Estland herstel word weens die politieke onstabiliteit in die Sowjetunie. Demokrasie het die weg gebaan vir die regering om 'n land te skep waarin sy bevolking kan floreer.

Die nuwe regering het homself van die begin af daartoe verbind om markgerigte hervormings in te stel, wat beteken het dat Estland uiteindelik ontslae kon raak van die sosialistiese stelsel wat die land in puin gelaat het. Dit is vervang met 'n kapitalistiese stelsel van vooruitgang.

Dit is selde dat regerings goeie besluite neem of vermag – dit word meestal by die privaat sektor opgemerk – maar monetêre hervorming is by die Estland-regering se politieke agenda ingesluit.

Hierby is 'n vryhandelsone, die privatisering van staatsondernemings en ook die instelling van 'n vaste bedrag aan inkomstebelasting gevoeg.

Onder die merkwaardige leiding van Mart Laar, wat van 1992 – 1994 en weer vanaf 1999-2002 as eerste minister gedien het (Laar was slegs 33 jaar oud toe hy die eerste keer as eerste minister verkies is), het die ekonomie groot vordering gemaak. Laar het die inspirasie om sy nasie op te hef uit die boek Free to Choose deur Milton Friedman gekry. Dit was ook die enigste boek oor ekonomiese aangeleenthede wat Laar tot in daardie stadium gelees het.

Hy het konsepte geïmplementeer wat volgens Friedman kan sorg vir 'n florerende ekonomie. Estland is danksy Laar se besluite een van die ekonomieë in die wêreld wat die vinnigste groei. Estland dien ook as getuie dat 'n vryemarkstelsel werk en dat daar selfs aan die ander kant van die voormalige Ystergordyn, waar sosialisme steeds meestal heers, mense is wat nie in die denke van kommunisme deel of daarin vasgevang is nie.

Hierdie hervormings en die verwestering van die ekonomie lei daartoe dat baie innovasie en buitelandse kapitaal na Estland toe stroom, en dit het ook daarvoor gesorg dat baie internasionale maatskappye soos Kuehne + Nagel, Ericsson, Symantec en andere kantore in Estland gaan vestig het.

Wanneer Estland se vordering en welvaart met ander voormalige Sowjetrepublieke vergelyk word, is die positiewe impak van 'n vryemarkstelsel selfs meer opmerklik omdat die gemiddelde inkomste per persoon veel hoër is as vir hul eweknieë in 'n reusagtige land soos Rusland.

Nie net geniet Estlanders 'n beter inkomste as hul bure in Rusland nie, maar hul lewensverwagting is ook hoër omdat hulle 'n beter kwaliteit lewe geniet, wat te danke is aan kapitalisme en die ekonomiese en sosio-ekonomiese voordele wat daardeur gebied word. Estlanders se lewensverwagting was in 1994 ongeveer 60 jaar, waar dit vandag volgens die Wêreldbank op 74 jaar staan.

Op die Human Freedom Index (2020) word Estland 8ste uit 152 lande geplaas en dit is ook 8ste op die Index of Economic Freedom. Dit word dus as een van die vryste lande ter wêreld beskou.

Estland het ook 'n relatiewe lae werkloosheidsyfer van 7,1%, wat heelwat laer is as die EU-gemiddeld en aansienlik laer is as die 32,6% van Suid-Afrika waar staatsinstellings nie geprivatiseer word nie, maar waar daar aanhoudend gate met belastingbetalers se geld toegestop word en min tot geen dienslewering deur die staat vermag word.

Estland se maatskappybelastingstelsel (onverdeelde winste word nie belas nie) lok ook entrepreneurs om hul eie ondernemings te begin. Nie net is die burgers minder afhanklik van die staat nie, maar hulle geniet 'n reeks voordele omdat hulle vir hulself en hul landgenote geleenthede skep wat terselfdertyd ook die plaaslike ekonomie stimuleer.

Estland is veral 'n land wat bekend is vir sy hoëtegnologie-ondernemings wat beleggings vanuit die buiteland inbring en ekonomiese groei bevorder. Skype is 'n goeie voorbeeld van die land se eersteklas innovasie wat in die land se hoofstad, Tallinn, ontwikkel word.

Estland geniet een van die hoogste internasionale kredietgraderings:

  • Standard & Poor’s: AA-
  • Moody’s: A1
  • Fitch IBCA: A+

Vergelyk dit met Suid-Afrika se swak kredietgraderings:

  • Standard & Poor’s: BB-
  • Moody’s: Ba2 (Negatief)
  • Fitch IBCA: BB- (Negatief)

Meer as 80 000 mense uit 170 verskillende lande het e-inwoners van Estland geword. Sowat 17 000 maatskappye is op die manier gestig en het daarin geslaag om in 'n tydperk van sewe jaar 'n gesamentlike omset van €3,68 miljard (R63 miljard) te behaal.

E-verblyfreg stel digitale ondernemers in staat om 'n EU-gebaseerde maatskappy aanlyn te stig en ook te bestuur. Estland is die heel eerste land wat hierdie vorm van verblyfreg aanbied. Dit is 'n digitale identiteit en status wat deur die regering uitgereik word en wat toegang bied tot Estland se deursigtige digitale sakeomgewing.

Dit stel entrepreneurs in staat om regulatoriese hindernisse in hul eie tuislande te omseil wanneer hulle in Europa probeer sake doen. Die e-verblyfreg bied egter nie burgerskap, belastingverblyf, fisiese verblyfreg of die reg om na Estland of die EU te reis nie.

Die Estlandse regering stel wetgewing in wat buigsaam en op behoefte gebaseer is, met die prioriteit op entrepreneurskap wat deur 'n vryemarkstelsel moontlik gemaak word, terwyl die Suid-Afrikaanse regering wetgewing implementeer wat Suid-Afrikaanse entrepreneurs in onmoontlike posisies plaas deur feitlik alle besigheidsmoontlikhede te reguleer. Die privatisering van staatsinstellings in Estland het ook daartoe bygedra dat die privaat sektor, wat gereed staan om dienste te lewer en daaruit 'n wins wil genereer, daarvoor kon sorg dat Estlanders nie slegs mededingende salarisse in die werkplek verdien nie, maar ook dat hulle beter lewenskwaliteit geniet.

“Baie mense wil hê dat die regering die verbruiker moet beskerm. 'n Baie dringender probleem is om die verbruiker teen die regering te beskerm.” – Milton Friedman

 

 

 

 

 

 

 

  •  
  •  
  •  
Reon Janse van Rensburg Deur Reon Janse van Rensburg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close