Algemeen -

Wat is jou vers wat jy skryf?

Leierskap as ’n konsep is so oud soos die wêreld self. Leiers word nog altyd as unieke mense beskou; hulle samestelling lyk net anders. Regdeur die geskiedenis het hierdie tipe leiers na vore getree en die toekoms vir toekomstige generasies gevorm. Partykeer het hulle die status quo bevraagteken, soms monumente gebou en ander kere het hulle deurbrake laat plaasvind deur die besluite wat hulle geneem het. Die heel belangrikste eienskap van hierdie mense is egter die feit dat hulle motiveerders vir verandering is.

Die lewe bestaan sonder twyfel uit baie uitdagings, maar dit is deur ons vermoë om te kan aanpas wat ons begin om ons eie lewe te lei. Deur ons bestaan maak ons 'n bydrae tot die samelewing en om deel te neem aan die lewe skryf jy jou eie lewensvers. Die vers wat jy skryf het mooi in, al voel dit nie elke dag so nie! In Walt Whitman, 'n Amerikaanse digter, se gedig “O Me! O Life!” reflekteer hy oor die uitdagings van die lewe en definieer hy die menslike ervaring.

“What good amid these, O me! O Life!”

Sy antwoord hierop is dat ons almal, individueel en as 'n groep bydra tot 'n vers wat bydra tot die ongelooflike spel wat die lewe is.

Wat is jou vers? Wat is ons vers? Wat is dit wat in ons vers staan wat bydra tot die verbetering van die samelewing waarin ons woon? Hierdie is vrae wat ons nooit ophou om onsself af te vra nie. Dit is hierdie vrae wat 'n invloed op ons selfvertroue het.

Om selfvertroue te hê is seker een van die belangrikste aspekte in jou samestelling as mens. Ons kan selfs so ver gaan as om te sê, dat sukses van jou selfvertroue afhang. Met toegang tot 'n magdom van inligting wat vrylik beskikbaar is, is dit nie so moeilik om met selfvertroue voor te kom as 'n kenner nie. Die werklikheid is selfvertroue gee jou nie die reg om as kenner voor te kom nie. Adam Grant verwys in sy boek, Think Again, na 'n selfvertroue “sweet spot”. Dit verwys na jou vaardighede en vermoë om 'n toekomstige doelwit te bereik terwyl jy wonder of daar waar jy nou is, jy oor die regte vaardighede beskik om dít wat jy graag in die toekoms wil bereik, reg te kry. Jou selfvertroue lê dus nie in jou bestaande kennis en vaardighede nie, maar juis in jou vermoë en kapasiteit om konstant te bly ontwikkel, om die regte vaardighede te hê en om 'n kenner op jou gebied te wees, nie net waar jy nou is nie, maar ook waar jy in die toekoms wil wees. Om jou eie vers te skryf moet jy in jouself glo, ’n gesonde selfbeeld en genoegsame vertroue in jouself hê sodat jy kan skryf aan die mooi vers van jou lewe!

Die leiers wat aan die toekoms waarin ons nou leef help skryf het, het genoeg in hulleself geglo om 'n verskil te maak. Hulle het gefokus op dit wat hulle moes doen, maar het ook 'n oog op die toekoms gehou. Om dit te kon regkry het hulle konstant hulle eie vaardighede en denke bevraagteken. Hulle het konstant aan hulleself gewerk om 'n beter vers te skryf. Hulle het konstant bly leer, bly lees en hulleself daaraan herinner dat daar altyd nuwe inligting is waarvan hulle nie weet nie. Ek deel graag met julle 'n paar boeke van leiers wat 'n verskil in my lewe gemaak het deur die vers wat hulle geskryf het. Ek kan met vrymoedigheid jou aanmoedig om hierdie boeke te lees.

  1. Think Again: The Power of Knowing What you Don’t Know

Adam Grant beskryf nie net hoekom dit soms belangrik is om te twyfel nie, hy beklemtoon die belangrikheid daarvan om die onbekende te verken en nie net om dit te geniet nie, maar ook om vreugde te kan vind wanneer jy verkeerd is. Innovasie was nog altyd deel van die samestelling van suksesvolle persone, en nou meer as ooit is dit belangrik om innoverend te wees. In hierdie boek verduidelik Adam Grant hoe belangrik dit is om die vaardighede te ontwikkel om nuut te kan dink.

  1. Thinking, Fast and Slow

Daniel Kahneman verduidelik in hierdie top-verkoper op 'n unieke en briljante manier hoe die twee sisteme – een, wat vinnig, intuïtief en emosioneel is en twee, wat stadiger, maar meer doelgerig en logies is – die dryfvere van hoe 'n mens dink is.

  1. The Heart of Business: Leadership Principles for the Next Era of Capitalism

Hubert Joly beskryf in dié ongelooflike boek sy persoonlike filosofie rakende leierskap en die belangrikheid om jou doel in die lewe te vind. Hy skryf ook daaroor om mense die middelpunt van alles te maak en om menslike “magic” te laat gebeur.

  1. The Bomber Mafia: A Dream, a Temptation, and the Longest Night of the Second World War.

Hierdie is een van daardie boeke wat te min bladsye het. Malcom Gladwell stel werklik nooit teleur nie, en in hierdie boek bring Gladwell die stories van 'n Duitse genie met 'n tuisgemaakte rekenaar, 'n groep broers in sentraal Alabama, 'n Britse psigopaat en fenomenale chemici van Harvard saam en beskryf die grootste morele uitdagings in moderne Amerikaanse geskiedenis. Die boek beklemtoon ook die belangrikheid om die regte menslike profiel te gebruik om dit wat gedoen moet word, te laat gebeur.

  1. Superhuman: Life at the Extremes of Mental and Physical Ability

Hierdie boek van Rowan Hooper word deur The Times as “spectacularly enjoyable” beskryf. Ek kan dit nie beter beskryf nie. Die boek is uiters interessant en terselfdertyd inspirerend! Die boek het drie afdelings: Dink, doen en om mens te wees (“Being”). Super mense in verskillende aspekte van tale tot hardloop word aan die leser bekend gestel en in detail beskryf. Die skrywer doen dit op so 'n wyse dat dit moeilik is om die boek neer te sit!

Hou aan leer, hou aan lees en skryf 'n mooi vers; nie net vir jouself nie, maar vir ons almal wat saam met jou aan die spel van die lewe deelneem!

  •  
  •  
  •  
Deur Higgs


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close