Kultuur, Politiek -

Wat sal ons verloor as Afrikaans uitsterf?

Oral waar jy kyk word ons taal, Afrikaans, bedreig. As dit nie universiteite is wat Afrikaans as 'n inheemse taal ontken nie, is dit maatskappye wat Afrikaanse kommunikasiekanale sluit, of Afrikaanse dorpsname wat ten duurste geskrap word – selfs uit weervoorspellings op 'n Afrikaanse TV-kanaal. Aanvaar jy dit met apatie? Besef jy nie dat ons só baie sal verloor as Afrikaans uitsterf nie?

Afrikaans is die jongste taal ter wêreld, maar tog skiet die wortels diep en ver terug. Op Saterdag 14 Augustus het ons Afrikaanse Taaldag gevier. Die GRA (die Genootskap van Regte Afrikaners) is op hierdie dag in 1875, honderd-ses-en-veertig jaar gelede, in die Paarl gestig. Hulle was die dryfveer agter die beweging om Afrikaans as 'n amptelike skryf-, skool- en kanseltaal erken te kry. Die Afrikaanse Taaldag wys op die duur stryd wat van lank gelede af gevoer word, sodat ons vandag Afrikaans kan praat.

Hoekom is dit belangrik dat ons vandag nog Afrikaans kan praat? Nelson Mandela het gesê as jy met iemand se hart wil praat, moet jy in sy moedertaal met hom praat. Dit wys wat ons kan verloor as Afrikaans uitsterf – 'n stukkie van ons hart. 'n Stukkie van ons kultuur-hart. Ja, taal is die draer van soveel kulturele waardes.

Dink aan “oom en tannie”. Het jy geweet hierdie aanspreekvorm kom uit die Groot Depressiejare van 1929-1933? In hierdie tyd was die Afrikaners so arm dat hulle dikwels by vriende in die huis moes bly. Daar is dan sulke hegte bande gebou dat hulle soos familie geword het. Vandaar die “oom” en “tannie” wat ons vandag nog gebruik. Boonop wys hierdie aanspreekvorm op die hoë waarde wat Afrikaners aan familie- en gesagsverhoudings heg.

Dink aan idiome. Daar is kosbare geskiedenis daarin opgesluit. Die idioom “jy is voor op die wa” kom direk uit die Groot Trek van 1835-1838. Die voorste deel van die wa was gereserveer vir ouer mense, so as 'n kind voor op die wa gesit het, dan was hy letterlik te voor op die wa. Afrikaans is ryk aan figuurlike taalgebruik en dit verklap veral iets van Afrikaners se geskiedenis en geloof. Ons wil dus nie Afrikaans “bokveld toe stuur” nie, want dit beteken die dood. Hierdie idiomatiese taalgebruik van  “bokveld toe” het vroeër verwys na die hel, na aanleiding van die laaste oordeel – beskryf in Mattheus 25, waar die bokke na die ewige vuur gaan.

Dink aan grappies vertel om die braaivleisvuur waar jy 'n storie kleurvol in jou moedertaal – Afrikaans – kan vertel. Dink aan Afrikaanse musiek waarop jy kan sokkie tot die stof so staan.

Dit is alles stukkies van ons kultuur-hart. Dit is 'n stukkie van Suid-Afrika. Besef jy dat die woord “Afrika” die kern is van die woord “Afrikaans”? Die Afrikanerkultuur is die enigste selfstandige Christelik-Westerse kultuurgemeenskap wat met 'n eie taal en kultuur in Afrika ontstaan het. Ja, 'n eie taal – gewortel in die suidpunt van Afrika. Ja, Afrikaans is die mag van my stem en die krag van my pen.

Die antwoord op die vraag, “wat sal ons verloor as Afrikaans uitsterf?” is 'n doodeenvoudige “heeltemal te veel”. Kom ons koester ons taal: so kielierig op my tong wanneer ek pittig is, so stroopsoet wanneer ek samesyn geniet, so deftig wanneer ek uit volle bors sê, “my hartklop sal altyd dans in Afrikaans”.

  •  
  •  
  •  
René Krüger Deur René Krüger


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close