Algemeen, My Werk -

Wat sê die manier waarop jy verkoopspersone behandel van jou?

Deur Mandy-Michelle Thackwray

 

Die foon lui. Ongelukkig neem jy die oproep en dit is van iemand wat iets aan jou wil smous. Jy is dadelik op jou perdjie, lig die persoon kortaf in dat jy nie belangstel in wat die persoon ook al wil smous nie en lui af. Ander persone luister heel geduldig, net om daarna die verkoopspersoon te dreig met wetgewing oor die beskerming van persoonlike inligting.

Die kassier in die winkel waar jy vandag jou kruideniersware gekoop het, is stuurs. Sy druk jou brood omtrent plat soos sy dit verby die skandeerder trek en jy besluit summier die winkelgroep is pateties.

Dan is daar die aanslag wat jy voel wanneer 'n paar verkoopspersone om jou hang sodra jy die winkel betree. Wat is fout met hulle? Dink hulle jy gaan iets steel? Magtig, man! Jy wil eers rustig self rondkyk. Dan breek die oomblik aan wat jy wel hulp nodig het en daar is nie 'n enkele verkoopspersoon op die vloer om jou te help nie.

Ander kere dink jy dalk by jouself dat alle verkoopspersone jakkalse is wat jou enige iets sal wysmaak solank hulle geld uit jou kan maak.

Waar jou ervaring en opinies oor verkoopspersone die een kant van die munt is, is daar 'n mens, iemand wat baie hard werk en moeite doen om 'n sukses van sy/haar beroep te maak aan die ander kant. Dalk sit daar 'n mamma wat bekommerd is oor haar siek kind by die huis en waar die geld vandaan gaan kom vir die dokter en wat nie besef hoe sy jou brood verinneweer nie.

Die realiteit is dat die oorgrote meerderheid verkoopspersone ongelooflik hard moet werk om hul brood verdien. 'n Kassier ontvang byvoorbeeld 'n gemiddelde salaris van R2 700 per maand. 'n Agent in 'n oproepsentrum moet gemiddeld 93 oproepe maak vir 7 suksesvolle verkope.

Daar word van hierdie mense verwag om selfvertroue te hê, nederig te wees, altyd positief en vriendelik, gedrewe en pligsgetrou te wees, en dit als terwyl hulle soms uitgelewer is aan die boelies in die publiek.

Verkoopspersone het 'n slegte reputasie. Dit mag dalk welverdiend wees, maar die meeste van die negatiwiteit is weens veralgemeende stereotipering.

As jy 'n vriendelike en geduldige ingesteldheid teenoor verkoopsmense inneem, kan dit jou dalk die volgende in die sak bring:

  • Hulle sal meer geneë wees om eerlik en opreg met jou te wees en om jou met openhartige raad en advies van hulp te wees.
  • Jy kry moontlik 'n beter aanbod of kwaliteitdiens vanaf die verkoopsmens wat bereid is om die ekstra myl vir jou te loop.
  • Hulle het die inkomste nodig (Dit beteken nie jy moet iets by almal te koop nie, maar onthou net dat die persoon net sy werk wil doen).
  • Verkoopspersone is mense net soos ek en jy. Hulle het ook hul afdae, moet stres hanteer en teikens najaag.
  • Hul doel is om jou te help om te kry wat jy wil hê. Hulle is dus daar om jou te help.

Uiteindelik lê die antwoord daarin dat ons ander moet behandel soos ons graag behandel wil word.

Haal dus asem as jy hoor die oproep is 'n verkoopsoproep en weier die gesprek op 'n vriendelike manier. Maak dit liewer van die begin af en op 'n mooi manier duidelik dat jy nie in die produk belangstel nie. Moenie die proses onnodig uitrek met versoeke dat die agent jou later terugskakel of om te vra dat e-posse met inligting aan jou gestuur word nie. Glimlag vir die kassier in die winkel en bedank die persone wat goeie diens aan jou verskaf. Jou glimlag of vriendelike woord maak dalk die wêreld se verskil in die ander persoon se lewe.

Jou gedrag is eenvoudig wedersydse naasteliefde. Verkoopspersone moet die nee aanvaar en moet in 'n goeie gees aanbeweeg.

Op 3 Maart vier ons internasionale verkoopspersoondag ter ere van almal wat 'n diens in verkope lewer en wat verdien om met waardigheid en respek behandel te word.

  • 54
  •  
  •  
  •  
Algemene Skrywer Deur Algemene Skrywer


In die Media


BLF se boodskap is duidelik – Solidariteit versoek OVK om party te skrap


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close