Algemeen -

Wat wou Denel, hoe nou?

25 jaar kan lyk soos die begin van 'n loopbaan na afloop van jou studies. 25 jaar kan lyk soos 'n horlosie wat aan jou oorhandig word by 'n weelderige aangeleentheid. 25 jaar kan lyk soos jou kind wat hulle meestersgraad kry, of selfs sy of haar eerste huis koop.

Tans lyk 25 jaar by Denel baie soos onmoontlike aftrede, verlies van inkomste, en die algehele verwoesting van kredietrekords net om aan die lewe te bly.

Maar al hierdie dinge kan gemeet word. Wat niemand ooit sal kan meet nie is die verwoesting wat vermeende staatskapers gesaai het toe hulle veroorsaak het dat mense vir byna twee jaar geen, of slegs 'n gedeelte van hulle salarisse ontvang het. Ons sal nooit die psigiese impak daarvan om 'n huis, kar en pensioengeld te verloor, kan meet nie.

Nóg vandag, nóg môre sal daar duidelikheid wees vir mense wat vra “Hoekom?” Hoekom is 'n magtige onderneming só rot en kaal besteel dat 'n hofbevel betaling aan werknemers moes afdwing? Hierdie is vrae waarop antwoorde altyd sal ontbreek.

Die kruks van die krisis lê by die feit dat ’n mens die impak van staatskapers gesien en gehoor het. 'n Paar miljard hier en 'n paar miljard daar klink erg, omdat dit is. Dit laat egter ’n mens se gedagtes in 'n teenoorgestelde rigting dwaal. Hier dink jy aan swierige partytjies, weelde in oormaat sonder 'n gedagte vir enige wetgewing, morele riglyne, of selfs net vir dít wat behoort te wees. Dit maak dit wel aansienlik erger as jy dink aan die impak wat staatskaping op grondvlak gehad het.

Soos vroeër genoem kan 25 jaar soos baie verskillende dinge lyk. Wat wel 'n mens se gedagtes ontglip is dat 25 jaar se diens by Denel tans baie soos depressie, verlies en mismoedigheid lyk. Dink jou in: Jy lees in die nuus oor hoe baie geld jou organisasie het en die wêreldklas innovasie waarvan jy deel is word geprys, maar jy kry nie eers jou salaris nie.

In die aangesig hiervan het Denel tot 'n onberekenbare hoeveelheid skade bygedra. Skade wat regte mense, net soos ek en jy, vir ewig voor sal moet boet.

Ons kan bereken hoeveel salarisse uitstaande is; ons kan daai geld verhaal; ons kan vir mense kospakkies gee, maar Denel sal nooit menswaardigheid kan bied aan diegene van wie hulle dit gestroop het nie.

Dit is die invloed van staatskaping. Dít is die impak van 'n korrupte staatsdiens wat staatsentiteite in die grond in besteel; die verlies van mense se lewens.

Wanneer ’n mens hoor wat met jou medemens gebeur omdat iemand anders gedink het hulle kan soveel as moontlik skep, raak ’n mens kwaad. ’n Mens word kwaad, nie net omdat dit jy of ek ook kon wees nie, maar ’n mens raak kwaad, want dit bring die vraag na vore: Waar is die menslikheid?

Kan jy jou indink dat jy weet mense moet sonder kos klaarkom omdat jy korrup is, maar jy eet kaviaar?

Wat my wel gerusstel in die aangesig van al hierdie sleg, is dat daar wel medemenslikheid bly. ’n Mens sien dit in die moeite en passie wat diegene volg wat regverdigheid soek. ’n Mens sien dit in die oë van elke persoon wat 'n kospakkie help pak, aandra en uitdeel. 'n Mens sien dit in die dankbaarheid vir klein genades elke dag.

Medemenslikheid is nie dood nie en daarvoor is ek dankbaar.

  •  
  •  
  •  
Deur Franco van der Berg


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close