Algemeen -

Wees die gade wat jy graag wil hê

As jy sit en dink oor jou lewensmaat, die een wat JY gekies het en beloof het om jou hele lewe aan te wy, en jy dink aan al die ongeregtigheid wat daardie persoon jou al aangedoen het, en jy aan hom of haar … dan wonder ek soms.

Hoe dikwels vra ons onsself: “Is ek die beste vernoot wat ek vir my gade kan wees?”

Om met ‘n ander persoon saam te lewe, kan uitdagend wees … nee, dit ís uitdagend.  Albei het hul eie maniertjies en dit kan moeilik wees om mekaar tegemoet te kom. Elkeen se denke werk anders, elkeen se temprament is anders en elkeen het ander goed wat vir hom of haar belangrik is in die lewe … Daar sal altyd teleurstellings wees en daar sal altyd verwagtings wees waaraan daar nie voldoen word nie. Maar daar is ook baie goeie dinge. Dit is wat jy kies om op te fokus wat die verskil maak. Dit is juis die dinge waarop jy jou aandag fokus wat jou persepsie beinvloed. Hierdie stelling is waar by die werk, in jou huwelik, met jou kinders, met jou vriende, jou ouers. Sjoe, eintlik geld dit vir enigiets waarop jy dit wil toepas.  As jy op die negatiewe dinge in jou werkplek fokus, gaan jy eerlikwaar in jou hart voel dat jy nie lekker werk nie. As jy net fokus op jou kinders se stoute kaskenades, gaan jy waarskynlik in jou hart begin glo jy het vreeslike stoute kinders. Jy gaan dalk selfs perspektief verloor van hoe oud hulle is, en dat hul streke moontlik ouderdomsverwant mag wees.

Die  toiletsitplek … Die eeue oue gesprek van verskille tussen mans en vroue.

Ek persoonlik kan daardie deel van die lewe met ‘n man aanvaar, dat die sitplek soms opgeslaan is. Hy is allermins ‘af’ wanneer ek by hom kom.  Miskien is dit ook vanuit sy oogpunt irriterend as die sitplek afgeslaan is? Dit hoef nie ‘n groot probleem vir my te wees om die sitplek af te slaan nie.

Ek is natuurlik die een wat nie die speseryebotteltjies weer volmaak nie en die een wat die leë kartonnetjie op die toiletrolhouer los tot iemand anders (my man ?) dit ruil …

Ek sal die laaste van basies alles gebruik en dit nie volmaak nie – suiker, koffie, yskaswater … Ek werk wel regtig deesdae harder daaraan. Ek is die loskop een in ons huis … “Happy go lucky”, maar 'n groot frustrasie vir my ander helfte!

'n Mens kyk soms na ander mense en jy dink jy weet wat jy sien, maar niemand in hierdie wêreld ken my so goed soos wat Bennie my ken nie. Hy weet van my slegte gewoontetjies en hy weet van my tekortkominge. Daardie dingetjies wat ek nooit met iemand anders sal deel nie. Hy hoor my snork, hy kyk menigte rolprente se eindes alleen… Hy sien my opgeswelde ogies elke oggend sonder grimering en is steeds lief genoeg vir my om na 14 jaar, hierdie jaar, steeds by my te wees. Deur dik en dun het ons mekaar se dinge al hanteer en verwerk.

Ja, hy maak my mal … en ek dink soms aan alles van hom wat my frustreer. Ek dink dit is normaal om soms daaroor te obseseer … dalk nie …

Ek probeer altyd om op dié dinge van my man te fokus waarvoor ek dankbaar is.

Ek sit elke dag bewustelik ’n tydjie opsy om te dink oor die dinge wat my man doen wat my herinner aan hoekom ek in die eerste plek op hom verlief geraak het.

Ek probeer om nie maklik aanstoot te neem wanneer hy vir my iets sê nie. Ek kry dit nie altyd reg nie, maar ek probeer.

Ek doen moeite om regtig elke dag een ding te doen wat tot diens van hom is, al is dit net om sy broodjies vir werk te pak en 'n briefie daarby in te sit. Of om sy hare te skeer wanneer dit vir hom te lank raak (dit sal nooit te lank raak na my smaak nie!)

Een van die belangriste goed is dat ek besef dat almal hul dinge het, lysies … net soos ek soms ’n lysie het van dinge wat my frustreer, en ook nog 'n ander lysie van verwagtinge, so het hy moontlik ook sy lysies.

Nee, hy het definitief ’n lysie … haha … daarvan is ek doodseker. So oulik as wat ek kan wees as ek die dag lus het, so 'n drakie kan ek ook wees … ek belowe!

Ek probeer dink wat van my dalk op sy lysie mag wees, en probeer daaraan werk. Ek ken hom mos goed genoeg om presies te kan weet as ek net die moeite sou doen om daaroor te gaan nadink.

Sekerlik die moeilikste een van almal vir my is praat … ja, ja, ek weet, vir dié wat my ken, ek praat baie! Baie nonsens, ja …

Maar wanneer dit by belangrike dinge kom, is praat eintlik een van my swak punte. Dit verg regtig baie van my om oor hartsake, die dinge wat in MY hart aangaan, te praat. Ek kan vir ure met mense gesels oor wat in hulle harte aangaan, ek kan selfs my oppervlakkige gedagtes en gevoelens maklik deel …

Dit is wanneer dit kom by wat ek graag uit die lewe wil hê en waaraan ek sou wou hê dat ons moet werk, daardie diep, diep hartsake, dat ek faal. Wanneer ek met my man moet praat oor wat in my hart aangaan, skiet ek baie tekort. Die arme skepsel moet gewoonlik trek en druk en vryf en krap tot ek oopmaak. En dan ontplof ek gewoonlik en huil. Snot en trane en kwaaigeite orals.

Verbeel jou jy neem 'n sterk balon en gooi binne in hom mayonnaise, tamatiesous, macaroni, rosyntjies, Jellytots en konfyt … nou blaas jy hom op en knoop hom toe. Nou krap jy met n tandestokkie en druk teen hom en trek aan hom totdat hy oopbars. Sjoe, wat 'n gemors sal dit nie wees nie!

Nou ja, dit is waarmee Bennie te kampe het elke keer as ek opgekrop het. Elke klein dingetjie wat my verkeerd opvryf of my omkrap bly ek oor stil en sê gewoonlik net: “Ek is fine” … tot een dag, dan bars daardie morsige bom.

Ek is doodseker, nee ek wéét, dat daardie bom moontlik heel bo aan sy lysie oor my is. Hy hou niks daarvan nie, maar hy is nog hier, in my lewe …

Ek werk wel hard daaraan om die gewoonte te kweek om na hom te luister, eerlik te wees oor wat my pla en saam 'n oplossing te bespreek. Dis voorwaar moeilik, maar glad nie onmoontlik nie. Ons kom tog reg.

Ek dink die punt wat ek probeer maak, is dat ons almal mense is, net doodgewone mense met dinge.  Elkeen van ons wil graag die perfekte lewensmaat in ons lewens hê – iemand wat ons kan dien en onvoorwaardelik liefhê. Dit is normaal en dit is goed. Ons verdien dit!

Ons moet net nooit uit die oog uit verloor dat hulle ook mense is nie. Dat hulle met ons moet saamlewe, en dat elke ses vir iemand anders 'n nege is.

 

  •  
  •  
  •  
Deur Algemene Skrywer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close