Algemeen -

Wees 'n ietsdoener

Dankie aan almal vir julle boodskappe. Dit gaan bo verwagting goed op die toer. Ons ontvang elke dag nog bevestigings van afsprake met parlementslede. Dit het nou nodig geword dat ons groep van drie moes opdeel om almal te kan sien. Vandag is ons by die Oostenrykse parlement.

Dit is nie die eerste keer wat ons internasionaal skakel nie, maar die klimaat het totaal verander. Daar heers ongekende ontnugtering met Suid-Afrika en daar is ongekende belangstelling om meer te hoor.

Iemand vra op Facebook: Wat help dit? Dit is 'n belangrike vraag. Dit is egter ook 'n baie gevaarlike vraag. As ons sou antwoord dat dit niks help nie, het ons oorgegee. Dan het ons ons lot aanvaar – willose slawe van 'n regering wat teen ons regeer.

Die massaklagtoer is op sy minste 'n daad van protes – 'n uitroep dat ons die stand van sake in Suid-Afrika nie as normaal aanvaar nie. Selfs net 'n protestoer sou al voldoende wees. Dit is egter nie al nie. Die massaklagtoer lewer ook praktiese uitkomste op. Die eerste is die substantiewe klag wat by die Verenigde Nasies se Komitee vir die Uitskakeling van Rassediskriminaie gelê word. Dié komitee het die status van 'n regstribunaal wat 'n uitspraak moet lewer.

En as die uitspraak negatief is? Dit word ook gevra. Wel, dan is ons vir 'n rukkie teleurgesteld, verander strategie en gaan aan. Ons toekoms lê nie in enige tribunaal se hande nie. 'n Uitspraak in ons guns sal help, maar dit is net 'n element van ons strategie en beslis nie ons hele strategie nie.

Indien die uitspraak positief is, beteken dit dat die regering sy wetgewing moet aanpas om aan die resolusie te voldoen. En as die regering dit nie doen nie? Dan kan ons die Suid-Afrikaanse howe gebruik om die resolusie af te dwing. Ons planne raak nooit op nie.

Die toekoms is té lank vir ons om te dink die einde van die geskiedenis het aangebreek.

Die mosies in die Europese parlemente het weer alles te doen met diplomatieke druk. Suid-Afrika is nie in isolasie nie en lande in Europa is van ons grootste handelsvennote.

Die feit dat die ANC so uiters sensitief is oor die Solidariteit Beweging se internasionale druk bevestig dat die regerende party nie vry van druk is nie.

Die mees praktiese uitkoms van die toer is die verenigings wat deur die Solidariteit Beweging gestig word. Dit is infrastruktuur wat prakties gaan help. Ons kan dit ook die “ons sal self”-been van die toer noem.

Daar is natuurlik 'n alternatief vir iets doen en dit is om niks te doen nie. Niks doen nie se uitkoms is seker –niks anders gaan gebeur nie en die negatiewe momentum gaan versnel.

Iets doen het altyd 'n positiewe effek, soms gering en soms baie positief. As jy die regte ding deurlopend, geduldig en met ywer doen, dan volg 'n deurbraak. Jy moet net doen wat jy moet doen en dan vertrou.

My goeie predikantsvriend, dr. Wikus Buys, het een keer gepreek dat die Here vir jou 'n toekoms skenk daar waar Hy jou roep. Jou verantwoordelik is om te doen waarvoor jy geroep is.

Hoe meer ietsdoeners daar is, hoe vinniger die deurbraak.

Die feit dat honderde duisende mense die massatoer steun, is nie net iets nie, dit is iets groots.

Word 'n ietsdoener en steun die massaklag. Ons het nog duisende stemme nodig.

#MassaKlagToer

  •  
  •  
  •  
Dr. Dirk Hermann Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close