Algemeen, Nuus -

Welcome to the NWU open day 2038

Die oomblik toe die wekker lui weet ek alreeds iets is anders as gewoonlik. Vir 'n oomblik of twee is ek deurmekaar, en dan besef ek dat ek vanoggend halfvyf reeds moet opstaan, sodat ek vyfuur reeds op die snelweg kan klim, en seweuur in Potchefstroom kan wees – na sewe is daar nie meer parkering op kampus beskikbaar nie, dit is tog nog al die jare so. Soos ek in die gang afloop sien ek dat my dogter alreeds aangetrek is. Sy sien al vir maande lank uit na vandag – die NWU opedag, haar kans om op kampus te gaan rondloop, en te sien waaroor ma en pa al die jare om die braaivleisvure praat, haar kans om in “Lover’s Lane” te gaan loop, 'n Ontbytpita te eet en na 'n paar koshuise te gaan kyk. Ja-nee kyk, die opgewondenheid loop hoog!

Toe ek in die kombuis kom herinner my slim-horlosie my dat vandag Saterdag, 8 Mei 2038 is. My dogter het maande terug alreeds die hele dag uitgeboek vir my en haar. “Opedag in Potch” het sy dit genoem. Ons pak 'n paar vrugte en 'n waterbottel vir ons elkeen, klim in die voertuig, en vertrek. Ek het gedink sy sal op pad wil slaap, maar nee, heeltemal te opgewonde oor dié dag begin sy my uitvra oor my jare van studentwees. Gelukkig bestuur die motor homself en ek kan my volle aandag gee aan die stories van deurnagbraai by die vlei, karre aan die brand stoot buite die Draak, duikweg-liedjies, en serenade buite dameskoshuise.

Die pad vlieg verby, en toe ek my kon kry is ons in Hofmanstraat, of te wel, 'n straat wat op 'n stadium Hofmanstraat was. Hier gaan ons, dink ek. Haar tienervoetjies gaan nou onder haar uitgeslaan word! By die hoofhek sal sy deur 'n netjiesaangetrekte student begroet word, en 'n sakkie met lekker geskenkies, 'n kaart van die kampus en 'n program kry. Dan sal ons worstel om parkering te kry, maar deur een van die vriendelike beskermingsdienstepersoneel gehelp word, en tog regkom. Vandaar sal ons 'n drafstappie Amfiteater toe neem, net om plek te kan kry – plek wat die wag werd sal wees. Na 'n opening met Skriflesing en gebed sal ons dan vermaak word en verstom word, een kwinkslag op die ander, totdat ons verdeel word in die verskillende fakulteite se groepe. Dan sal sy by 'n paar fakulteite verwelkom word, terwyl ons oral langs die pad groepe studente teëkom wat hul koshuise op die een of ander kreatiewe manier bemark. Ja-nee, sussie, na vandag sal jy verstaan waarom ek en al my vriende nagte om kan praat oor hierdie stukkie aarde – wag jy maar net!

Soos wat ons by die hek intrek besef ek dat dit effens stiller is as wat ek verwag het, maar ons is seker maar net effens vroeg! Ons kry redelik maklik parkering, sommer voor die Ouditorium – nou ja, hoe gelukkig kan mens wees! Ons draf-stap Amfiteater toe, maar besef toe ons nader kom dat ons maar rustig kan wees, hier is nie veel mense nie – miskien skakel almal maar net deesdae elektronies in op die beeldsendingskanaal? Dit moet wees, maar, nou dat ek rondkyk, hier is dan nie 'n kamera nie? Ons gaan sit nietemin en wag vir die verrigtinge om te begin. Ek sien hoe my dogter om haar kyk, so klein bietjie minder borrelend as vroeër, maar steeds opgewonde en gereed om verstom te word. Nie meer lank nie, dan is dit agtuur, dan kan die verrigtinge begin!

So sit ons, en ons sit, en ons sit, so paar minute na agt kom 'n personeellid opgestap, sy groet ons met die rewolusionêre groet wat in die vorige eeu bekend was in Suid-Afrika, en herinner ons vlugtig, en slegs in Engels, dat ons almal weer welkom is by die amptelike opedag wat in Oktober gehou sal word vir studente wat nie by ander universiteite plek kon kry nie. Sy bedank ons dat ons wel gekom het, en loof en prys die NWU vir die wonderlike transformasie van die afgelope 25 jaar. Sy sê egter niks van akademiese uitmuntendheid nie, sy sê niks van koshuislewe of studentelewe nie, en ook niks van die uitsonderlike vorming van mense nie. My dogter haal haar slimfoon uit en begin om artikels op sosiale media te lees.

Na nog transformasiegetalle en lof en eer vir die agente van radikale transformasie noem die dame agter die mikrofoon dat sy gou iets oor taal wil sê. Sy wys ons daarop dat hierdie universiteit altyd ruimte vir meertaligheid sal maak, en dat hulle daarop trots is. Dan spreek sy nog dankbaarheid uit teenoor die transformasie agente wat seker gemaak het dat klasse reeds hierdie jaar vir twee dekades al, slegs in Engels aangebied word op die Potchefstroom “learning site” van die NWU. Nou kan almal deel voel, sê sy heel spoggerig.

Op 'n stadium sê sy ons kan nou maar na die fakulteite toe gaan wat ons wil. Ons sal op die kaart sien waarheen mense moet gaan. Geen studenteleiers wat ons na fakulteite neem nie, geen koshuise wat oop is vir toere nie – fakulteit toe en huis toe. Dankie, sluit sy af, en los ons weer met die rewolusionêre krag-groet.

Ons begin toe nou maar stap na 'n paar fakulteite toe. Steeds oorbluf deur hoe anders al hierdie is as wat ons albei verwag het, bly ek en my dogter maar stil. Voel sy miskien dat ek vir haar gejok het oor my studentelewe? Dalk sien sy die pyn in my oë, die pyn van iemand wat iets opgebou het en dit toe moes afstaan aan ander, ander wat dit nie waardeer het nie, dit beledig het, en dit afgebreek het.

Nadat ons deur 'n paar fakulteite gestrompel het, en eintlik maar net na die webblad toe verwys is, besluit ek om een laaste poging aan te wend – ek sal vir haar gaan wys waar die studentelewe afgespeel het, die studentelewe waarvan ek so gereeld praat. Haastig neem ek haar na die studenteraadskantore toe, daar is mos altyd lewe! Daar aangekom besef ek dat die radikale transformasie hier byna voltrek is. Waar daar altyd studenteleiers gesit het, is daar nou net store, die bestuur het die kantore by studenteleiers weggeneem nadat die studenteraad, wat sedert 'n dekade terug polities verkies is, die kantore in protes oor koshuispryse aan die brand gesteek het. Die name en foto’s van my vriende en kollegas wat 'n groot deel van hul lewens, en baie van hulle tyd vir hierdie kampus en sy studente gegee het, is op daardie selfde dag afgeruk en op die vuur gegooi. Name uit die ou regime, name wat moes #fall.

Verstom deur wat ek om my sien kry ek nie veel meer uit as “kom ons gaan” nie. Op pad kar toe onthou ek die woorde van die bestuurslede in 2018, hoe hulle geglo het dat taal die laaste stryd is. Hulle het nie besef dat dit die eerste stryd is nie. Dat taal nie die einde is nie, maar die begin. As ek maar net daardie tyd minder naïef was, as ek maar net opgestaan het en vir hulle gesê het ek weier. Maar, ek het myself laat paai deur bestuurslede wat korttermynvrede bo langtermynvoorspoed geplaas het – nou sit die volgende geslag met die gevolge.

  •  
  •  
  •  
  •  
Paul Maritz Deur Paul Maritz


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close