Algemeen -

Wêreldkrisis, maar kinderlaggies in oorvloed op my tydlyne

Deur Mia Slabbert

Ek kan nie hierdie blog begin sonder om die lirieke van die treffer groep, Queen, se “Bohemian Rhapsody” aan te haal nie: “Is this the real life?Is this just fantasy? / Caught in a landslide, No escape from reality.”

Ons lewe tans in 'n realiteit wat niemand behalwe Hollywood-draaiboekskrywers kan uitdink en beskryf nie. Ek onthou die dag vroeg in Januarie, toe ek tydens ons daaglikse nuusvergadering so terloops genoem het van 'n nuwe siekte in Wuhan nadat ek die eerste video gesien het van waar mense so in die strate van die stad bloot net omval. Daar was video’s van vol hospitale en mense wat sommer so in die gange lê. Dit was die begin van die koronavirus se spreekwoordelike eie werklikheidsreeks. Dit het intussen ons almal se nuutste werklikheidreeks geword wat ons elke oomblik van die dag volg en waaroor ons dink. Dit is oral. Dit is skrikwekkend om die minste te sê.

Toe, op 'n droewige dag tydens ons land se 21 dae lange inperking, lig ek my kop vir 'n minuut van my foon af op en sien die mooiste prentjie in my huis: die mooiste, vriendelikste twee gesiggies wat borrel van vreugde. My twee klein seuntjies sien nie die vrees nie en hulle voel nie die angs van die virus nie. Inteendeel, hulle gesiggies is helder, hulle glimlagte is groot en hulle harte is tevrede.

Dadelik tref dit my: vir ons volwassenes is hierdie krisis meetbaar, want ons het 'n leeftyd se raamwerk waarteen ons die impak en die gevolge van Covid-19 kan meet, maar ons kinders staan vierkantig in hulle eie feëverhaal. Dit is een waar mamma en pappa (as hulle so gelukkig is) en boetie of sussie heeldag saam bymekaar is. Een waar hulle nie in die oggend totsiens hoef te sê nie. Een waar pappa werklik tyd het om saam met hulle bal te speel of opwindende eksperimente te kan doen. Een waar mamma springmielies maak en (glo dit of nie) vir die eerste keer 'n worsie op 'n stokkie maak. Een waar hulle nie hoef te hoor dat hulle nie karretjies of Hulk Smash skool toe mag neem nie. Een waar almal in die aande saam eet. Die beste van alles, een waar die huis maar so 'n klein bietjie deurmekaar kan wees, want mamma is dalk nie meer so streng met alles wat op sy plek moet wees, want “dalk kry ons kuiergaste” nie. Hulle hele lewe is by hulle; veilig en snoesig tussen die vier mure van jou huis.

Jy as ouer is hulle hele wêreld. Jy as ouer is tydens inperking genoeg vir jou kinders. Jou blote teenwoordigheid vul hulle bekertjies dat dit oorloop.

Iets wonderliks gebeur wanneer 'n mens met kinderoë na ons situasie kyk. Die vrees gaan weg en die geleenthede word raakgesien. En hiermee weet ek dat ek ongelukkig nie alle kinders kan insluit nie. Die hartseer realiteit is dat vir baie kinders in die wêreld skool en “buite” die enigste ontsnapping is van nagmerries wat by die huis gebeur. Daar is huise in stede waar kinders van babatyd as seksslawe gebruik word; daar is kinders wat daagliks houe in die gesig verduur; daar is kinders wat nie weet hoe 'n vol maag voel nie, selfs onder “normale” omstandighede. Dit is ook die realiteit van ons as land. Vir hierdie kinders is die vyand nie die koronavirus daar buite nie, maar die nagmerrie wat binne afspeel.

Wat doen mens? Hoe voel mens nie skuldig nie? Wat het jy aan dié situasie gedoen voor die inperking aangekondig is? Ek troos my aan die feit dat daar organisasies is, en steeds tydens die inperking is, wat soos waghonde vir hierdie kinders veg en wat die kookpotte aan die gang hou sodat hierdie kwesbare kinders minstens kos kan kry. Ek haal my hoed af en ek maak my beursie oop en gee my tyd met die grootste liefde vir hierdie “soldate vir kinders.” Ons moet deel wat ons het, al is dit min, want as inperking my een ding geleer het, is dit dat gelukkige kinders baie minder nodig het om hul lewens mee te vul as wat ek gedink het. Hiermee moet ek net weer beklemtoon dat ek as 'n ma van kleuters praat. Ek belowe ek sal 'n opvolg skryf wanneer myne tieners word.

Die feit bly staan dat ons elkeen eendag 'n storie oor hierdie tydperk in die wêreld gaan vertel. Ek, my kinders, my huishulp en haar kinders, die bure én die brawe vegters wat ondanks hulle eie kwesbaarheid die wiele aan die rol gehou het.

Ek weet nie wat gaan jou storie of jou kinders s’n wees nie, maar die volgende lesse gaan beslis 'n hoofrol in myne speel:

  • Wanneer my kinders nie televisie kyk nie, is hulle beslis baie vriendeliker.
  • 'n Pakkie “2-minute noodles” kan op die kreatiefste maniere 'n ete vir die hele gesin wees.
  • Die huis hoef nie altyd 100% aan die kant te wees nie.
  • Wanneer mens kitskoffie (enige soort) en 'n bietjie water klits, maar dit die lekkerste bederfkoffie.
  • Wanneer mens elke aand 'n bondel wasgoed was, bly jy voor.
  • Nie alle klere hoef gestryk te word nie.
  • Ouma en oupa is werklik belangrik. Daarom is ons bly ons het nooit die land verlaat nie.
  • As jy elke oggend self jou bed opmaak, begin jy jou dag met struktuur.
  • Wanneer jou elektriese tandeborsel se battery pap is en daar nie batterye is nie, kan jy steeds daarmee borsel. Dit bly 'n tandeborsel.
  • 'n Eenvoudige koppie koffie vir jou eggenoot wanneer hulle dit nie verwag nie, is meer as goud werd vir jou huwelik.
  • Wanneer jy vrugtesap met water verdun, verdubbel jy sy “rakleeftyd” in die yskas.
  • Jy is nie so lelik sonder grimering as wat jy gedink het nie.
  • Eet net wanneer jy honger is.
  • Stap weg wanneer jy gefrustreerd is.
  • YouTube is nie net vir stories nie. Daar is so baie oulike opvoedkundige inhoud, selfs in Afrikaans.
  • Wanneer jy kan, slaap wanneer jou kinders slaap. (Ek weet nie waarom dit na kraamverlof stop nie?)
  • Kleuters sal enige iets saam met jou doen, selfs klere ophang en die toilet skoonmaak.
  • Musiek kan binne vyf minute die atmosfeer in die huis verbeter.
  • Jy kan meer werk doen as wat van jou verwag word. Dit wys jou beroep is jou trots en jy is dankbaar teenoor jou werkgewer.
  • Jy het nie al die klere en skoene in jou kas nodig nie. Maak leeg, gooi uit en skenk.

Wanneer jy weer op sosiale media rondsnuffel, kyk uit vir al die kinderglimlaggies en tuisvideo’s waarin hulle die tyd van hulle lewens het. Weet dat 'n groot groep kinders in die wêreld dalk meer lewenslesse uit hierdie tyd van inperking leer as wat hulle by die skool sou leer. Sien hoe gesinne plan maak in 'n moeilike situasie, hoe gesinne en organisasies kreatiewe oplossings vind vir die probleme van ons tyd. Sien hoe mense gee en vir mekaar omgee. Sien die vrede tussendeur die angs en bid vir, gee, bemoedig die mense wat letterlik probeer oorleef in hierdie tyd.

Maak seker dat jou storie oor die inperking eendag 'n ander persoon sal laat glimlag wanneer jy dit vertel. Ons is dit verskuldig aan ons geslag en die geslagte wat nog kom.

  • 20
  •  
  •  
Mia Slabbert Deur Mia Slabbert


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close