Uncategorized @af -

Werkfiks

Deur Chereé Meyer

Yes! Ek het my eerste werk gekry. Almal het my gelukgewens: “Geluk met jou eerste werk! Jy is nou amptelik ’n grootmens.” Wat dit egter beteken, weet ek vandag, ’n jaar en vier maande later, steeds nie.

Is ’n grootmens iemand wat goed is met kos maak? Admin? Miskien iemand wat weet hoe om hul eie belasting te doen, of wat energie vir elke dag het? Tussen my en jou – ek is nie één van hierdie vier nie. Om die waarheid te sê, toe ek net begin werk het, was ek elke aand voor agt in die bed, want ek kon doodeenvoudig nie my oë ’n sekonde langer as dit oophou nie. Ek het gevrees dat ek nooit weer energie sal hê nie.

Die stelling: “Jy is nou amptelik ’n grootmens”, het geweldig baie druk op my geplaas. Skielik moet ek iets of iemand wees wat ek in die eerste plek nie weet wie dit is, óf hoe om daai persoon te wees nie. Ek het al hierdie goed om te doen, maar ek weet nie hoe om dit te doen nie. Niemand het vir my gesê dat ek sal aanpas of dat dit beter sal raak nie. Inteendeel, wanneer ek my frustrasies gedeel het, het meeste mense gesê: “Welkom by die wêreld van werk,” of “Welkom in die grootmenslewe.”

Die waarheid is egter dat ’n mens wel aanpas en dat jy wel leer hoe om al hierdie dinge te doen. Dit vat egter nie ewe lank vir almal nie. ’n Mens kan ook nie altyd glo wat jy op sosiale media sien van ander jong werkendes nie, want niemand deel die gedeeltes waar hulle moeg en moedeloos is, en soveel frustrasie ervaar dat hulle net wil skree nie.

Ek is vandag hier om vir jou te sê wat niemand vir my gesê het toe ek net begin werk het nie.

Jy gaan okay wees!

Haal net asem en vat dit een tree op ’n slag. Jy hoef nie nou dadelik alles te weet nie. Jy gaan weer energie hê en jy gaan mettertyd alles leer wat jy moet weet.

Kry maniere wat vir jóú werk om jou dag en jou emosies te verwerk; verkieslik iets wat niks met werk te doen het nie. Dit kan oefen wees, dit kan ’n joernaalinskrywing wees of dit kan selfs net wees om met jou woonstelmaat oor jou dag te gesels.

Wees gaaf met jouself en onthou, om werkfiks te wees, is ’n regte ding. Sodra jy jou eie roetine gekry het en weet wat vir jou werk, sal die res van hierdie dinge in plek begin val. As dit beter vir jou werk om in die oggend te oefen, doen dit. As jy eerder daardie ekstra uur se slaap nodig het, doen dit dan! Daar is geen generiese resep om hierdie dinge gewoond te raak nie.

Ek is glad nie ’n roetine mens nie, maar wat vir my gehelp het om werkfiks te raak was om vir die eerste ruk lank ’n vaste roetine te hê. Die feit dat my liggaam elke dag geweet het min of meer wat om te verwag, het vir my geweldig baie gehelp om aan alles gewoond te raak.

Om jou etes lank vooruit voor te berei help ook baie, dan hoef jy nie elke dag te beplan rondom wanneer jy gaan kosmaak nie.

Verder, kry dinge binne in jou werkdag wat vir jou lekker is. Jy kan musiek luister terwyl jy werk, ’n ent om die blok stap as die omgewing dit toelaat, of selfs ’n geskeduleerde 10-minute teebreek saam met jou gunsteling kollega neem.

Moet ook nie jouself te veel kasty indien jy na jou studentedae terugverlang nie. Dit het baie van my lang werkdae korter gemaak wanneer ek kon terugdink aan ’n lekker sonsak by die treinspoor, sterre kyk op dampad se dak, swem in die Calvyn en SS-roomys op die bib se gras. As jy jou studentedae mis, bel sommer ’n vriendin en reël dadelik ’n koffie. Die lewe is makliker as ’n mens dit met jou hartsmense deel.

Laastens, onthou: aanhouer wen! As jy dinge een dag op ’n slag vat kan dit nie anders as om uit te werk nie. Dis normaal as dit jou twee of selfs drie jaar neem om uit te pluis wat presies ’n grootmens is en hoe om een te wees.

En net so tussen my en jou, ek dink meeste mense pluis dit dalk nooit heeltemal uit nie.

  •  
  •  
  •  
Deur Algemene Skrywer


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close