Wet jaag nuwe, onrealistiese rasseteikens, maan Solidariteit

Bykans 80%, oftewel sowat een miljoen, van alle ekonomies aktiewe bruin Suid-Afrikaners in die Wes-Kaap sal in 'n ander provinsie 'n heenkome moet vind, terwyl meer as een miljoen swart Suid-Afrikaners na dié provinsie moet trek as die voorgestelde wetswysiging vir die wet op gelyke indiensneming tot op die letter geïmplementeer sou word. As die wysiging aanvaar word, sal dit ook beteken dat meer as 300 000 Indiërs in KwaZulu-Natal uit dié provinsie sal moet padgee om rasseteikens te behaal.

Lees Rapport, Die Burger, AFP en  M&G. Luister RSG.

 

Die vakbond Solidariteit reken dat die voorgestelde wetswysiging impliseer dat migrasie van miljoene ekonomies aktiewe Suid-Afrikaners tussen provinsies noodsaaklik sal wees om die nasionale rasseverdeling van die ekonomies aktiewe bevolking (EAB) in elke afsonderlike provinsie te weerspieël. Dié weerspieëling van die nasionale EAB in elke provinsie sal behels dat daar in elke werkplek regoor die land, ongeag streeksdemografie, 'n 73,7%-verteenwoordiging van swart, 'n 10,9%-verteenwoordiging van bruin, 'n 3,2%-verteenwoordiging van Indiër en 'n 12,2%-verteenwoordiging van wit werknemers moet wees.

Intussen het die koerant Rapport vandag berig dat Cosatu se Tony Ehrenreich sê hul bevindinge is “min of meer dieselfde” en dat Cosatu ook die kwessie in Nedlac sal opper. Daarbenewens word die grondwetkenner van die Universiteit van Kaapstad, prof. Pierre de Vos, ook oor die onderwerp aangehaal. Hy meen dat 'n saak uitgemaak kan word dat die voorgestelde wetgewing waarskynlik ongrondwetlik is. Die DA se Ian Ollis het ook in die berig gesê dat dié party hulle oor die wetgewing tot die hof sal wend indien dit nodig word.

Dr. Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, meen dat dié wysigings aan die wet op 'n reusagtige en onwerkbare program van sosiale manipulasie kan neerkom, aangesien die wysiging veroorsaak dat die wet nie meer die EAB van 'n streek in ag neem nie, maar slegs die nasionale rassesamestelling van die ekonomies aktiewe bevolking. Hy beklemtoon dat daar nog talle ander kwessies in die wette is wat heroorweeg moet word.

 Volgens die huidige samestelling van die Wes-Kaap se EAB is nagenoeg 29,1% van die EAB swart, 54,8% bruin, 0,5% Indiër en 15,6% wit. Om die nasionale demografie te kan weerspieël, moet daar groot skuiwe gemaak word. Dit sal beteken dat die huidige bruin en wit EAB met onderskeidelik 80% en 22% sal moet afneem, terwyl die swart en Indiër EAB onderskeidelik met 154% en 538% sal moet toeneem om die nasionale EAB-samestelling te kan weerspieël.

“In Limpopo sal dit voorts behels dat daar ten minste 'n 10 000%-toename in bruin ekonomies aktiewe mense moet wees, terwyl meer as 268 600 swart ekonomies aktiewe mense uit die provinsie sal moet trek. Hierdie absurde syfers bewys duidelik dat die wetswysiging in sy huidige vorm onwerkbaar is en onrealistiese eise stel,” sê Hermann.

Hierdie bevindinge vorm deel van 'n volledige verslag van die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) oor die voorgestelde wysigings aan die arbeidswette. Die verslag dui aan wat die noodsaaklike skuiwe van bevolkingsgroepe tussen provinsies sal moet wees ten einde die nasionale EAB-samestelling in elke provinsie te kan weerspieël.

Volgens Hermann impliseer die wysigings aan die wet op gelyke indiensname dat slegs die nasionale EAB-samestelling as 'n maatstaf van verteenwoordiging gebruik kan word en ander maatstawwe wat voorheen gebruik kon word, nou uitgesluit word. Die huidige maatstawwe sluit in of 'n geskikte persoon uit die aangewese groepe beskikbaar is om aangestel of bevorder te word, asook huidige en verwagte toekomstige ekonomiese en finansiële faktore in die spesifieke sektor. “Dit kom uiteindelik daarop neer dat 'n werkgewer, ten spyte van faktore soos die plaaslike demografie en die tekorte aan vaardige werknemers, bloot by die nasionale EAB-samestelling sal moet hou en nie aanstellings buite hierdie raamwerk sal kan maak nie,” sê Hermann. “Die voorstelle trek ook 'n streep deur die konsep ‘swart’ soos dit in die wet op gelyke in diensneming uiteengesit word. In praktyk word bruin en Indiër Suid-Afrikaners dus as’t ware uit die aangewese groep geskryf.”

Solidariteit se regspan het reeds met die samestelling van stukke begin om 'n hofaksie van stapel te stuur sou die wetswysiging goedgekeur word. “Die beginsel van verteenwoordiging soos wat dit nou in die voorgestelde wetswysiging weergegee word, strook nie met die Grondwet van Suid-Afrika nie en kan derhalwe nie aanvaar word nie,” verduidelik Hermann.

*Sien aangeheg 'n uittreksel uit die SNI-studie  oor die voorgestelde wysigings aan die arbeidswette.

  •  
  •  
  •  
Deur Dr. Dirk Hermann


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close