Algemeen -

Wie is die staat om te sê wat reg is?

Die meeste van ons is al so gewoond daaraan om die staat se wette as reg te beskou, sonder om eers te dink aan waar die staat die reg kry om vir ons voor te skryf wat reg en verkeerd is. Soos Ouboet in Orkney Snork Nie gesê het: “Ek het nie vir hierdie regering gestem nie, so sy wette is vir my ongeldig!”

Ongelukkig vir ons en vir Ouboet werk dit nie so nie. Of ons nou die staat ondersteun of nie, as jy binne die staat se grense bly, moet jy by sy wette inval, selfs al is die wette direk teen jou eie belang. Byvoorbeeld toe die destydse regering alle jong wit mans gedwing het om diensplig te doen. Baie het dit as 'n voorreg beskou om hul land te verdedig. Ons eer ook vandag nog my pa se generasie vir die opoffering wat hulle gemaak het. Edel, ja, maar diegene wat aktief teen die destydse regering gekant was, is ook gedwing om hul lewens in gevaar te stel. Dit is die mag van die staat.

Vandag word niemand gedwing om hul lewens namens die staat te waag nie, maar ons word wel deur baie ander wette benadeel. Hoekom moet ons byvoorbeeld belasting betaal aan 'n staat wat wette instel om ons uit die werkplek te hou op grond van ons ras en geslag? En of ons nou wil of nie, as ons binne die grense van Suid-Afrika woon, moet ons by die wette hou. Dit is jou burgerlike plig om bly te wees dat jy en jou kinders nie vir 'n mediese graad kan registreer nie, al is hulle punte hoe goed.

Maar dit was nie altyd so nie. Voor Niccolo Machiavelli in ongeveer 1513 Die Prins geskryf het, het die meeste state, ten minste amptelik, hulself daartoe verbind om te doen wat reg is. Wette is gemaak om burgers te beskerm en state is verower om die regeerders se belange, wat dikwels voorgehou is as 'n verbetering van die verowerdes se lot, te bevorder.

Toe die wêreld egter rondom Machiavelli inmekaarstort deurdat sogenaamd Christelike leiers in Europa baie onchristelik teenoor hul bure opgetree het, het Machiavelli 'n klemverskuiwing in die politiek uitgewys en verdedig. Die politiek, sê hy, se doel is nie om te doen wat reg is nie, maar om die mag te behou en uit te brei. Net dit en niks anders nie. Daarom is dit aanvaarbaar vir 'n regering om gruweldade te pleeg, solank dit hom help om die mag te behou.

Dit is byvoorbeeld in die ANC se belang om mense te laat sterf van die honger, eerder as om hulle ekonomies op te hef, want 'n honger mens is deurgaans bewus van sy afhanklikheid van die staat. Iemand wat in sy eie behoeftes kan voorsien, is bevry van die staat en, om die waarheid te sê, sal gewoonlik beter daaraan toe wees sonder die staat. Die ANC weet dat hy in beheer van die mense sal bly solank hy hulle kan oortuig dat die regering in enige ander party se hande van hulle sal vergeet. Deur magspeletjies soos BEE en allerhande diensbillikheidswetgewing kan hy die swart meerderheid oortuig dat hy aan hulle kant is, terwyl hy eintlik alles in sy vermoë doen om hulle te vertrap om hul afhanklikheid verder uit te brei. En dit is reg, want die staat sê dit is.

Daarom is dit problematies om die staat as outoriteit vir reg en verkeerd te aanvaar.

Foto bron:  EPA-EFE/Cornell Tukiri

  •  
  •  
  •  
Theuns Du Buisson Deur Theuns Du Buisson


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close