Algemeen -

Woorde as pleisters – wat om te sê vir ouers wat rou

Die pa en ma sit stomgeslaan. Trane vee spore oop oor hul wange. Hoe? Hoekom? My kind is dood. Dis verby. Ek kan niks hieraan doen nie. Ek kan dit nie verander nie. Dis nou die aaklige, donker pad wat voor ons uitgestrek lê en hy moet gestap (sommige dae selfs gekruip) word. Tyd staan stil. Skok en ontnugtering. Jy gaan nooit weer die skerwe van hierdie gebroke hart behoorlik kan las nie.

Daar heers 'n geweldige, ongemaklike stilte. Niemand weet eintlik wat om vir jou te sê of hoe om jou te troos nie. Ongeag of jy 'n familielid, 'n nabye vriend of slegs 'n onderwyser of kennis is van iemand wat onlangs 'n kind aan die dood moes afstaan, daar is maar net eenvoudig tye wanneer geen woorde die regte woorde is nie. Ongeag wat jy sê, daardie ouer (en selfs die boetie of sussie) sit in 'n donker gat van skok en ontkenning en niks gaan dit beter maak nie. Daar is wel woorde wat die seer kan vererger.

As 'n ouer wat al self aan die verkeerde kant van slegte nuus gesit het, besef ek ook dat ouers hul pyn op verskillende maniere hanteer. Ongeag hoe ons dit hanteer, watter tipe mens ons is en waar in die rouproses ons staan, die pyn is steeds dieselfde. Ons vind ons troos in mekaar en in God, maar hierdie seer is ’n séér seer.

Ons lees deesdae byna daagliks in die media van ouers wat kinders verloor – babas, peuters en selfs hoërskoolkinders. Ek is nie 'n sielkundige wat hierdie tema deurtastend gaan ontleed het deur jare se studies nie, maar ek weet watter woorde seermaak en watter woorde pleisters op die seer plak, veral kort na die verlies.

  • “Hy is op 'n beter plek.“
    Ja, hy is, maar my eerste reaksie toe ek hierdie woorde die eerste keer na my seuntjie se dood gehoor het, was: “Hoekom? Was ek nie 'n goed genoeg mamma vir hom nie?” Hierdie woorde is ’n baie gevaarlike stelling om te maak teenoor iemand wat net by haar kind wil wees. Geloof in God is eintlik 'n ononderhandelbaarheid op hierdie roupad. Maar ek was kwaad en verbitterd. Daar was by my geen twyfel dat my kind gesond sou word nie, maar hy het nie. Hierdie woorde het baie diep gesny.

  • “Die Here het hom nodig gehad.“
    Dit maak tog nie sin nie, want ek het hom ook nodig. Die waarheid is eerder dat hy tuis is, dat hy 'n uitverkorene is. Dit maak steeds nie die pyn van my verlies op daardie oomblik ligter nie. God is almagtig, hoekom het Hy 'n kind nodig?

  • “Gelukkig het hy nie gely nie.“
    Tegnies is enige sin wat begin met die woord “gelukkig” taboe. So ook: “gelukkig het jy nog kinders” en “gelukkig is julle nog jonk genoeg vir nog enetjie”. Niks aan hierdie situasie is gelukkig nie.

  • “Alles gebeur met 'n rede.“
    'n Ouer in pyn wil nie hierdie woorde hoor nie, want 'n mens se liggaam en jou verstand stry teen die wete dat hierdie situasie nie normaal is nie. Dis nie normaal vir ouers om hul kind te begrawe nie. Later sal ons dalk wel verstaan, maar vir nou maak hierdie woorde ons net moedeloos.

  • “Ek weet hoe jy voel.“
    Tensy jy ook 'n kind aan die dood afgestaan het, weet jy nie. Jy kan dit nie vergelyk met jou ma of pa of 'n troetedier nie (en ja, mense doen). 

  • “Staan sterk.“
    Ek is naar en kwaad en wil niks van niemand af weet nie. Staan sterk? As jy nie in ons skoene “staan” nie, laat hierdie woorde 'n mens voel asof iemand die stukkies van jou hart wat oor is, uitruk en vir die wolwe voer.

  • “Dis dalk beter so.“
    Bitter. Dis al wat ek kan sê. Bitter.

  • “Mettertyd sal dit beter word.“
    Die seer word eers erger voordat jy leer om daarmee saam te leef. Dit word nooit beter nie. Die verlange raak net dieper en die maskers wat ons dra, dikker.

  • “Dis tyd om aan te beweeg.”
    Die feit dat ons vanoggend opgestaan het, is genoeg beweging. Hierdie kind van ons sal altyd deel van ons lewens wees; deel van ons wese, al is hy nie meer daar nie. Herinneringe word nie uitgevee nie. Liefde word nie afgesluit nie. Ek beweeg, elke dag, stappie vir stappie.

  • “Jy moet net vertrou.”
    As ek nie vertrou het nie, was ek nie meer hier nie. Ek ken ongelukkig mammas wat nie kans gesien het om die pad sonder hul kinders te stap nie. Vertrou is al wat ons het, maar selfs dit is soms moeilik.

Woorde wat vir ons pleisters geplak het:

  • “Ek is só jammer.”
    Net dit. Ek het self nie geweet wat ek wil hoor nie. Ek het net geweet wat die seer erger gemaak het en watter woorde die trane laat loop het. Hierdie woorde was net OK.

  • “Ek het nie die regte woorde nie; weet net dat ek omgee.”
    Dis al wat ek nodig het. Ek is verslae. Die een oomblik kwaad, die volgende siek tot in my diepste wese. Ek het ook nie woorde nie, want niks kan hierdie gevoel beskryf nie. Daar bestaan nie woorde vir hierdie verlies nie. Dankie dat jy omgee.

  • “Ek weet nie hoe jy voel nie, maar ek sal help so goed ek kan.”
  • “Julle is in ons gedagtes en ons gebede.”
    Ons het baie hiervan nodig. Gebede, want hierdie las is te groot om alleen te dra.

  • “My gunsteling herinnering van xxx, is …”
    Ja! Ek wil my kind se naam hoor en ek wil ook glimlag oor die herinneringe. Dit bly deel van ons en op hierdie manier bly hy in ons en ander se gedagtes lewend. Ek het nodig om te weet die wêreld gaan hom nie vergeet nie. Hy was werklik hier en hy was werklik deel van ons lewens.

  • “Ek is net ’n oproep ver”, of “ek is hier vir jou”.
    Ek gaan waarskynlik nie sommer bel nie, maar as ek dit die dag doen, wil ek graag gesels, al is dit sonder woorde. Dis nie nodig om my vir koffie te vat om oor my gevoelens te praat nie, maar wees net daar vir ons as ons vangnet wanneer ons ons greep verloor.

  • Moet niks sê nie.
    Wees net daar of gee net ‘n drukkie. Dis genoeg. Ons verstaan.

Dan laastens, bly asseblief weg van onvanpasde grappies oor die dood of ongeluk of siekte, en wees sensitief vir opmerkings soos: “Ek het my doodgeskrik!” Wees geduldig met ons. Ons leer hoe om aan te pas. Ons leer om weer op te staan. Ons leer om weer die mooi in die lewe te sien. Ons leer hoe om weer te lag, en eendag sal ons sê: Ek is OK. Maar vandag het ons seer.

Die realiteit is dat daar baie van ons is. Ouers wat kinders verloor het, bly tussen ander mense. Ons word wakker (as ons kon slaap) en ons sit ons maskertjies op en trek ons harnasse aan vir die wêreld. En dan loop ons voort.

  • 123
  •  
  •  
  •  
Marisa Engelbrecht Deur Marisa Engelbrecht


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close