Geskryf deur Medihelp (Vir sakpas mediese dekking SMS “Solidariteit” na 32291)

 

Jy kan nie onthou wanneer laas jy nie moeg of swak gevoel het nie en jy sukkel om te fokus. Jy blameer jou besige skedule, begin terstond megadosisse multivitamiene afsluk en probeer oor naweke verlore slaap inhaal. Jy voel niks beter nie en begin dink dat slegs ’n sabbatsreis na ’n Tibetaanse klooster jou kan red van die chroniese moegheid wat voel asof dit in jou bene ingesyfer het. Jy kort eintlik dalk net ’n bietjie yster in jou dieet.

 

Ystertekort is ’n algemene probleem onder vroue. Tot 5% van vroue tussen die ouderdomme van 20 en 49 ly aan ’n ystertekort met anemie en 11% het ’n ystertekort sonder anemie.

 

Wat beteken dit?

As jy aan anemie ly, beteken dit dat die bloed wat suurstof deur jou liggaam vervoer minder rooibloedselle en ander elemente as normaalweg bevat. Hierdie toestand word dikwels deur ’n tekort aan yster in die dieet veroorsaak en kan benewens chroniese moegheid ook ander simptome soos hartkloppings en kortasemigheid veroorsaak.

 

Hoekom het ons liggame yster nodig?

Jou liggaam gebruik yster –

  • om suurstof te vervoer,
  • gedurende die regulering van jou metabolisme, en
  • vir die sintese van essensiële chemiese elemente soos witbloedselle en die breinchemikalie dopamien.

 

’n Ystertekort kan dus baie skadelik vir jou gesondheid wees, en kan nie net jou weerstand teen infeksies verswak nie maar selfs jou verstandelike vermoëns aantas.

 

Wat is die algemeenste oorsake van ’n ystertekort?

  • Swaar menstruele bloeding
  • Uteriene fibroïede (goedaardige tumors wat in die uterus vorm)
  • Bloedverlies tydens kraam
  • ’n Verhoogde behoefte aan yster gedurende swangerskap
  • Streng diëte vir gewigsverlies wat nie deur jou dokter voorgeskryf is of met hom bespreek is nie en dus ongebalanseerd mag wees
  • Enige vorm van chroniese bloedverlies soos inwendige bloeding veroorsaak deur maagsere, inflammatoriese dermsiektes en selfs aambeie.

 

Hoeveel yster het my liggaam nodig?

Die aanbevole daaglikse inname (ADI) vir vroue tussen die ouderdomme van 19 en 50 is 18 mg per dag. As jy ouer as 50 is, is die ADI 8 mg per dag. Kosse wat ryk aan yster is, sluit in rooivleis, vis, pluimvee, bone, volgraanprodukte, rosyne, groen blaargroente en verrykte ontbytgrane. Ongelukkig neem jou liggaam dikwels nie al die yster op uit die kos wat jy eet nie. Jy mag dalk aan ’n ystertekort ly omdat jou spysverteringskanaal nie die yster in die kos wat jy eet, kan absorbeer nie. Soms is die struktuur van die yster in sekere kosse makliker vir jou liggaam om op te neem as in ander kossoorte. Die yster in rooivleis word byvoorbeeld makliker deur jou liggaam opgeneem as die yster in groente.

 

Wat is die algemeenste simptome van ’n ystertekort?

  • Chroniese moegheid
  • Buitengewone bleekheid
  • Verswakte konsentrasie en onvermoë om te fokus
  • Kortasemigheid
  • Onverklaarbare spierpyne
  • Bros naels
  • Gereelde infeksies soos verkoues
  • Onvermoë om behoorlik gesond te word na ’n infeksie

 

As jy aan hierdie simptome ly, moet jy so gou as moontlik jou dokter raadpleeg. Die dokter sal ’n bloedtoets laat doen om te bepaal of jy aan ’n ystertekort en/of anemie ly en sal dan behandeling voorskryf wat toepaslik vir jou omstandighede is.

 

Moenie aanneem dat jy aan ’n ystertekort ly en begin aanvullings neem sonder om jou dokter te raadpleeg nie. Ysteraanvullings kan skadelik vir jou gesondheid wees indien jy dit onnodig of in die verkeerde dosis neem.

 

Watter behandeling jou dokter ook al voorskryf, sorg dat jy ook jou dieet aanpas om genoeg yster in te neem en dat jy dit kombineer met die regte kosse om jou liggaam te help om die yster op te neem. Jou dokter sal jou die beste raad kan gee volgens jou lewenstyl.

 

Bronne:

http://www.thedoctorwillseeyounow.com

http://www.womenshealthmag.com

http://health.howstuffworks.com

 

Want die lewe gebeur – vir die goeie en slegte tye kry ‘n privaat mediese fonds vanaf R918 pm.  Vir meer inligting oor Medihelp se voordele opsies, SMS “Solidariteit” na 32291.

  •  
  •  
  •  
Deur cilleste


Registreer / Register

Oops! We could not locate your form.

Maak toe / Close